Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Begin nuut … – Dag 2

Begin nuut ... met ʼn fokus op God en nie vrees nie

Bybelteks(te)

1 PETRUS 5

Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee

8Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

1 PETRUS 5:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOB 1

10U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan.

JOB 3

25Wat ek gevrees het, het oor my gekom;

waarvoor ek bang was, het my getref.

2 TIMOTEUS 1

7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

2 TIMOTEUS 1:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 54

17Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val,

sal iets uitrig nie;

elkeen wat vals teen jou getuig,

sal gestraf word.

Dit is hoe Ek, die Here,

vir my dienaars sorg.

Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

JESAJA 54:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag vertel ek jou hoekom ons vrees uit ons lewens moet probeer hou.

Het jy al na ʼn boksgeveg of tenniswedstryd gekyk? Terwyl die wedstryde vir iemand met geen sportkennis mag lyk na twee boksers wat bloot rondtrippel en net nou en dan ʼn hou inkry, of twee tennisspelers wat slegs die bal oor die net probeer slaan, is beide sportsoorte uiters strategies. Opponente is gedurig besig om mekaar se spel te ontleed en swak punte te identifiseer sodat hulle mekaar makliker kan uitoorlê.

Satan is ons vyand. In 1 Petrus 5:8 lees ons dat hy daagliks soos ʼn brullende leeu rondloop en na maniere soek om ons aan te val. Job is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Hy het ʼn mooi huis gehad, baie besittings, heelwat kinders en boonop ʼn wonderlike verhouding met God. Satan het niks daarvan gehou nie. Wat hom veral frustreer het, was dat sy aanvalle op Job nie gewerk het nie omdat God ʼn muur van beskerming rondom hom, sy familie en ook sy besittings geplaas het.

Job het egter ʼn groot swakpunt gehad: Hy het gevrees dat sy familie of besittings iets sou oorkom. Satan het dit geweet en toe hy ʼn geleentheid kry om Job se geloof te toets, het hy hom getref waar dit hom die seerste sou maak. In Job 3:25 lees ons Job se woorde nadat hy alles verloor het: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.”

Watter vrese koester jy in jou lewe? Is jy uitermatig bang dat jou kinders iets sal oorkom of dat jou huweliksmaat ontrou aan jou sal wees? Of dalk dat jy en jou gesin in ʼn motorongeluk betrokke gaan wees of dat jou besigheid bankrot verklaar gaan word? Besef jy dat die vyand sy ore spits?

In 2 Timoteus 1:7 lees ons: “God het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Ook in Jesaja 54:17 staan geskryf: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie (…) Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg …”

Wanneer ons toelaat dat vrees in ons lewens groter word as ons geloof in God, word ons ʼn maklike teiken vir die vyand. Behou dus jou fokus. Trek aan jou bokshandskoene terwyl jy jou (en ook die vyand) herinner dat God die laaste sê in elke situasie het. En wanneer Hy ʼn muur van beskerming rondom jou geliefdes en besittings plaas, kan geen brandpyle van die vyand jou tref nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS