Begin nuut … – Dag 1
Begin nuut … met vrede in jou hart
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 4
Was jy al ooit op ʼn Saterdagmiddag tydens ʼn belangrike rugbywedstryd noodgedwonge op pad na ʼn ander funksie? Dan word die radio gewoonlik onmiddellik aangeskakel om die wedstryd te volg. Veronderstel nou jy hoor skielik “gggggg …” net soos die spannende wedstryd die einde nader – ʼn seinonderbreking omdat jy tussen die berge deurry! Frustrerend, nie waar nie? Veral wanneer die radio weer sein optel die oomblik dat die wedstryd verby is en jy die finale telling misgeloop het!
Die vrede en harmonie in ons lewens kan met hierdie radiosein vergelyk word. Soms ervaar ons ʼn rustigheid en vrede in ons gemoed terwyl ons die stem van die Heilige Gees duidelik in ons binneste hoor. Ander kere, wanneer ons in vrees leef of sonde ʼn houvas op ons lewens begin kry, beleef ons hoe ʼn onrustigheid ons binneste vul en hoe ons skielik sukkel om die stem van die Heilige Gees te hoor – asof ons ʼn “seinonderbreking” beleef.
Die vyand se doelwit is om ons vrede te steel. Hoekom? Omdat hy weet dat ons sonder vrede sukkel om besluite te neem, makliker geïrriteerd raak en ons geliefdes met ons houding wegstoot eerder as om hulle nader na ons toe te trek.
Hoe steel die vyand jou vrede? Hy plaas ʼn stadige bestuurder voor jou in die verkeer en jy verloor jou humeur. Hy plaas ʼn gedagte in jou kop dat van jou kollegas van jou skinder (terwyl jy reeds sukkel met verwerping). Hy laat jou onnodig stres oor jou kind se veiligheid. Of hy oortuig jou dat jy nooit jou skuld sal kan afbetaal nie. Die vyand se doel is om die harmonie en “sein” met die Heilige Gees te versteur en jou fokus wég van God te neem en dit op jou vrese en bekommernisse te plaas.
Hoe herstel jy hierdie vrede in jou lewe? Die maklikste is om Paulus se raad in Filippense 4:6-7 te volg: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Ervaar jy tans vrede in jou hart of sit jy met ʼn onverklaarbare hol kol op jou maag? Kies om jou sonde voor God te bely. Kies om weg te kyk van jou vrese en jou fokus op Hom te plaas. Net Hy kan jou vrede herstel, jou help om weer die Heilige Gees se stem duidelik te hoor en ook aan jou vrede gee wat alle verstand te bowe gaan! Sterkte.