Begin nuut … – Dag 3
Begin nuut ... met God as ons Beskermer
Bybelteks(te)
PSALMS 91
Leser 1, Elize: “In November verlede jaar is ek met fase 4-limfoomkanker gediagnoseer. My onkoloog het gesê hy sal die kanker probeer beheer, maar dat hy dit nie kan genees nie. Ek het met my chemoterapie begin en wêreldwyd gebedsgroepe gehad wat vir my gebid het.
Ná elke behandeling was ek siek, maar God het wonderlike mense in my dorp, Chinchilla (in Australië), gestuur wat my ondersteun het aangesien my familie en kinders in Suid-Afrika is.
ʼn Paar dae gelede moes ek weer vir bloedtoetse gaan en die uitslag? Die kanker het heeltemal verdwyn! Die dokter was totaal verbaas. Alle eer aan ons Vader. Hy het my gebede verhoor. Ek loof ons God.”
Leser 2, Gert: “Ek was as jong seun in ʼn koshuis in Namibië. Een middag lê ek weens ʼn geweldige maagkramp met my knieë tot teen my bors opgetrek. Die pyn was so erg dat ek te swak gevoel het om na iemand uit te roep. Wat sake vererger het, was dat ek alleen in die koshuis was aangesien al die kinders buite gespeel het.
In my nood het ek ervaar hoe die Heilige Gees my gelei het om na God vir hulp te roep. Omdat ek swak was en geen krag gehad het nie, kon ek net fluister: ‘Here, help my …’ Ek het dit so vier keer gesê.
Meteens het ek ervaar hoe ʼn warm gloed deur my lyf vloei voordat ek besef het dat die pyn skielik weg was! Ek kon opspring en by die kamer uithardloop. Ek is vandag 51 jaar oud, maar ek sal nooit daardie oomblik in God se teenwoordigheid vergeet nie. Alle eer aan Hom!”
Leser 3, Petro: “Ek en my ouers deel ʼn huis in Mosselbaai. Soggens voordat ek werk toe ry bid ek en my ma gewoonlik saam. Gisteroggend was haar gebed spesifiek dat God almal veilig na hulle werke en terug na hulle huise sou bring.
Toe ek gistermiddag op pad huis toe by die verkeerslig wag om oor die kruising op die snelweg te draai, het ek meteens gevoel hoe ʼn hand om my enkel vou en my voet van die versneller afhaal – op presies die oomblik wat ek wou draai. Ek het opgekyk en gesien hoe ʼn voertuig reg van voor op my afpeil met geen intensie om spoed te verminder of die verkeerslig (wat toe reeds rooi was) te gehoorsaam nie. Die spoed waarmee die voertuig by myne verbygeskuur het was so hoog dat my voertuig geruk het.
Toe ek uiteindelik kon draai het ek langs die pad gestop, my oë toegemaak en vir God dankie gesê. Wat die ondervinding so ongelooflik maak is dat daar geen passasiers saam met my ry nie, maar ek het geen twyfel dat dit ʼn passasier van Bo was wat gekeer het dat daar ʼn noodlottige ongeluk was nie.”
Soos vir Elize, Gert en Petro wil God jou ook genees, beskerm en daagliks op die regte pad lei. Luister maar na die woorde in Psalm 91:9-10: “Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie. Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.”
Kom ons maak Hom deel van ons elke dag.