Bible Society of South Africa

Visioen

In die Bybel is ʼn visioen ʼn bonatuurlike visuele ervaring wat wat God aan mense (meesal profete) gee: God wys vir mense iets en gee op hierdie manier aan hulle ʼn boodskap. Dit is dikwels die openbaring van iets wat in die toekoms gaan plaasvind.

Terminologie

In Hebreeus is daar verskeie woorde vir “visioen”. Die belangrikste hiervan is

chazon

en

mar’eh

. Beide woorde is verwant aan die werkwoord wat “om te sien” beteken, en aan twee Hebreeuse woorde vir “siener”. “Siener” is ʼn ander manier om na ʼn profeet te verwys.

Visioene in die klassieke profete

In die klassieke profete, soos Amos en Obadja, is die visioen ʼn algemene manier waarop God met profete kommunikeer. In hierdie tekste is die visioen ongeveer dieselfde as die openbaring van God se woord (sien bv Obadja 1:1). In ʼn visioen maak God bekend wat in die nabye toekoms met Israel gaan gebeur.

Visioene in die latere profetiese boeke

In later profetiese boeke raak visioene al hoe meer omvangryk en kompleks. Dit word byvoorbeeld duidelik in die boeke Esegiël en Daniël. In Esegiël 9 ontvang die profeet daarom ʼn lang en dramatiese visioen van die val van Jerusalem. Behalwe vir openbarings oor die toekoms, ontvang Esegiël ook ʼn visioen van die stralende verskyning van die teenwoordigheid van die Here (Esegiël 1:28).


In die boek Daniël kom die woord “visioen” ongeveer 30 keer voor. Die visioene onthul op ʼn raaiselagtige en wonderbaarlike manier kennis oor die toekoms (bv in Daniël 7).

Die dele van ʼn visioen in die Ou Testament

In die Ou Testament bestaan visioene oor die algemeen uit twee dele. Die eerste deel beskryf wat die profeet sien. In die tweede deel praat God of die profeet, en dit word opgevolg deur ʼn verduideliking van die visioen (sien bv Amos 7:1-3).

Drome en visioene

In die Bybel word visioene dikwels in dieselfde asem as drome genoem, soos in die geval van Joël 3:1. God gebruik beide om ʼn boodskap aan mense deur te gee. Maar in die Bybel word ʼn onderskeid gemaak tussen ʼn visioen en ʼn droom. ʼn Droom is ʼn voorstelling wat altyd afspeel terwyl iemand slaap, terwyl dit nie noodwendig die geval is met ʼn visioen nie (sien egter die “nagtelike visioen” in Daniël 2:19 en elders): ʼn visioen kan ook as ʼn ekstatiese ervaring voorkom (die profeet is dan “in vervoering”).


In die Ou Testament kom drome as goddelike openbarings voor, hoofsaaklik in verhale (bv in Genesis 28:12 en Genesis 37:5), en feitlik nooit in profetiese tekste nie. Profete praat soms self negatief oor drome (Jeremia 23:25).


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS