Bible Society of South Africa

Tien gebooie

Die “tien gebooie” verwys na die tien belangrikste voorwaardes van God se verbond met Israel. Dit word gelys in Eksodus 20:1-17. Dit bestaan hoofsaaklik uit verbodsbepalings.


Die tien gebooie was van groot belang vir die ontwikkeling van die Joods-Christelike beskawing.

Terminologie

Die uitdrukking “tien gebooie” kom uit Eksodus 34:28 waar Moses beveel word om “die tien gebooie” (in Hebreeus, letterlik “die tien woorde”) op twee plat klippe te skryf. 


Struktuur

Die tien gebooie word dikwels in drie dele verdeel:



I. Die “proloog” (Eksodus 20:1-2) waarin God Homself bekendstel en die rede vir die tien gebooie gee. 


II. Die eerste vier gebooie oor hoe die mens met God moet omgaan:

  • teen politeïsme;
  • teen afgodsdiens;
  • teen die misbruik van God se Naam;
  • omtrent die viering van die sabbat.

III. Die laaste ses gebooie oor hoe die mens met sy naaste oor die weg moet kom — ʼn opsomming van basiese maatskaplike en morele beginsels vir die Israelitiese gemeenskap:

  • oor eerbied betoon aan jou ouers;
  • teen moord;
  • teen owerspel;
  • teen diefstal;
  • teen die aflê van vals getuienis;
  • teen hebsug.

Twee weergawes

Die tien gebooie word nie net in Eksodus 20:1-17 gelys nie, maar ook in Deuteronomium 5:6-21. Daar is klein verskille tussen die twee weergawes, veral in die vierde en tiende gebooie.

Datering en outeurskap

Die tien gebooie, soos dit in die finale vorm in die Bybel voorkom, dateer waarskynlik uit die tyd van die ballingskap of die eeu daarna (sesde of vyfde eeu v.C.). Maar in ʼn ouer vorm kan dit dalk uit ʼn veel vroeër tydperk dateer, alhoewel menings verdeeld is oor watter tydperk dit kon gewees het. In die bybelse tradisie self, word die tien gebooie met Moses in verband gebring.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS