Bible Society of South Africa

Mitologie

In hierdie konteks beteken mitologie verhale oor gode en ander bonatuurlike wesens. In die Bybel vind ons spore van die mitologie van die Ou Nabye Ooste. Hierdie spore word hoofsaaklik in die volgende vorms gevind:

  • verwysings na mitologie;
  • beeldspraak wat uit die mitologie kom;
  • verhale wat met sekere mites ooreenstem.

Verwysings na mitologie

Twee voorbeelde van bybelse verwysing na mitologie is:

  • rusies tussen die gode: dit is ʼn motief wat dikwels in die mitologie van die Ou Nabye Ooste voorkom, byvoorbeeld in die Mesopotamiese verhaal, Enuma Elisj. In die Ou Testament vind ons dit weer byvoorbeeld in Jesaja 14:12-25, waar die arrogante koning van Babilonië vergelyk word met die hemelse wese Helal (“helder môrester”) wat uiteindelik in die onderwêreld gegooi word. Hierdie motief speel ook ʼn rol in die verhaal van die seuns van God in Genesis 6:1-4 (1933/1953-vertaling).
  • die mite van die helde: spore van ou Hebreeuse mites oor helde kom byvoorbeeld voor in die verhale oor Henog (Genesis 5:24) en Nimrod, die groot jagter (Genesis 10:8-9).

Beeldspraak afkomstig van mitologie

In digterlike taal word beeldspraak gereeld gebruik en die oorsprong daarvan lê in die mitologie. Voorbeelde is:

  • donder as die stem van God (Psalm 29; Psalm 81:8; Psalm 104:7, 1933/1953-vertaling). Hierdie beeld kom ook in Mesopotamiese en Ugaritiese literatuur voor.
  • demoniese figure uit die ou mitologie, soos die naggees Lilit (Jesaja 34:14).

Bybelverhale met ooreenkomste in die mitologie

Sommige van die verhale in die Bybel stem ooreen met mites uit die Ou Nabye Ooste. Voorbeeld van hierdie ooreenkomste is:

  • die verhaal van die draak, ʼn mitologiese monster wat tydens die skepping deur God verslaan is (sien bv Job 3:8). Hierdie verhaal stem byvoorbeeld ooreen met Kanaänitiese mitologie, waarin die god Baäl die seegod Jaam verslaan.
  • die vloedverhaal in Genesis 6 – 9, wat vergelyk kan word met die legende van Atrahasis in Mesopotamiese mitologie.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS