Bible Society of South Africa

Here: JHWH

In die Bybel word die woord “Here” as God se Naam gebruik. Die woord “Here” is ʼn weergawe van die Hebreeuse “JHWH”.

Slegs konsonante

God se Naam, JHWH, bestaan uit vier konsonante en daarom word daar soms daarna verwys as die Tetragrammaton (“vier letters” of “vierletterwoord”). Dit is nie vreemd dat daar net konsonante in God se Naam is nie, aangesien die teks van die Hebreeuse Bybel oorspronklik net uit konsonante bestaan het. Mense sou die vokale lees, maar het dit nie neergeskryf nie. Vokaaltekens is eers later by die teks gevoeg.

Die betekenis van JHWH

Die betekenis van die naam is verwant aan die Hebreeuse werkwoord hajah, wat beteken “om te wees”. God het Homself aan Moses as JHWH bekendgemaak, met die verklaring: “Ek is wat Ek is. […] EK IS” (Eksodus 3:14-15).

Die uitspraak van JHWH

Dit is nie bekend watter vokale tradisioneel by God se Naam behoort het nie. Daar is gewoonlik aanvaar dat dit ʼn “a” en “e” was. JHWH behoort dan in hierdie geval te klink soos Jahweh.

Toe die Joodse volk later vokale by die teks gevoeg het, het hulle nie “a” en “e” by JHWH gevoeg nie, maar die vokaaltekens vir die Hebreeuse woord Adonai, wat “die Here” of “my Here” beteken. Dit het gebeur omdat JHWH met die woord Adonai vervang is wanneer dit hardop gelees is, aangesien die Naam van God nie in die vroeë Judaïsme uitgespreek is nie.

Die Tetragrammaton, JHWH, met die vokaaltekens vir Adonai klink dan soos “Jehova”, maar dit is ʼn foutiewe kombinasie van konsonante (vir JHWH) en vokale (vir Adonai).

Die Naam van God in die Septuagint

In die Septuagint is die Naam van God ook met Adonai vervang. In latere weergawes van die Septuagint is die naam weergegee met die Griekse woord kurios, wat, net soos Adonai, “Here” beteken.

“Here”

In navolging van die Septuagint gee byna alle latere vertalings van die Bybel, oud en modern, die Naam van God, JHWH, weer as “Here”. Dit is egter ook die Afrikaanse vertaling van die woord Adonai wat ook in die Ou Testament as ʼn Naam vir God voorkom. Om die onderskeid aan te dui wanneer dit ʼn vertaling van JHWH is, word hoofletters dikwels gebruik: “HERE” (1933/1953-vertaling).

Verwante Bybelgedeeltes

EKSODUS 3.14 - EKSODUS 3.15

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS