Bible Society of South Africa

Drome

In ou Israel het mense geglo dat drome van God af kom. God het dit gebruik om sy wil aan mense bekend te maak.

Gewone drome en simboliese drome

Twee soorte drome kom in die Bybel voor:

  • Gewone drome, waarin God direk met mense praat. ʼn Voorbeeld is die droom in Matteus 1:20, waar ʼn engel ʼn boodskap aan Josef gee.
  • Simboliese drome, wat slegs deur professionele droomuitlêers uitgelê kon word. Die drome van die skinker en die bakker Genesis 40:5-19 is byvoorbeeld simboliese drome.

Aan watter soort mense is drome gestuur?

In die Bybel gebruik God drome om sy planne bekend te maak aan profete (Numeri 12:6) en konings (1 Samuel 28:6), en ook aan gewone mense (Job 33:15-16).

Het alle drome van God af gekom?

Nie alle drome in die Bybel word as belangrik beskou nie; sommige drome het geen betekenis nie (sien Prediker 5:6). Alle drome wat mense in ʼn nouer verhouding met God bring, word as goddelike openbarings beskou.


Vals profete beroep hulle ook op hulle drome, deur te sê dat dit deur God aan hulle gegee is. Maar die ware profete beskou daardie drome as leuens (Sagaria 10:2).

Drome in die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament word drome beskou as ʼn manier waardeur God kommunikeer. Maar anders as in die Ou Testament word die betekenis van ʼn droom altyd dadelik gegee, selfs as drome ʼn simboliese inhoud het. Die klem val altyd op die boodskap en minder op die droom self. Die boodskap word dikwels verbind aan God se verlossing van die mens deur Jesus Christus. In die Evangelies vind ons drome hoofsaaklik in die verhale wat met Jesus se geboorte verband hou. Josef word, byvoorbeeld, in ʼn droom gewaarsku om na Egipte te vlug. In die boek Handelinge is drome en visioene ʼn teken dat God deur die Heilige Gees in die kerk teenwoordig is.

Drome en visioene

In die Bybel word drome dikwels in verband gebring met visoene (Joël 3:1). God gebruik beide om ʼn boodskap aan mense oor te dra. Maar die Bybel onderskei tussen ʼn visoen en ʼn droom. ʼn Droom is altyd ʼn voorstelling van ʼn gebeurtenis terwyl ʼn mens slaap, terwyl dit nie noodwendig die geval is met ʼn visioen nie.

 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS