Bible Society of South Africa

Wêreld van die dooies in die Ou Testament

In die Ou Testament is die doderyk die plek onder die aarde waar die afgestorwenes hulle bevind. Om terug te keer van die onderwêreld is nie moontlik nie, hoewel die opwekking van iemand uit die dood volgens die Bybel nie buite die kwessie is nie.

Bybelse beskrywings

Daar word ook na die doderyk (sjeol in Hebreeus) as “die kuil” verwys. Die doderyk is onder die aarde, in die “water onder die aarde”. By die ingang na die doderyk is daar soliede poorte wat gegrendel is om te keer dat die afgestorwenes ontsnap.

Die beskrywing van die doderyk is nie so konkreet nie: dit is donker (Job 17:13), stowwerig (Job 17:16, en stil (Psalm 94:17; Psalm 115:17).

Jesaja 14:9-11 skets ʼn prentjie van die onderwêreld as ʼn plek waar kragtelose geeste leef. Die omstandighede waarin die afgestorwenes hul bevind, is nie ʼn gelukkig nie: “Jy lê tussen die maaiers, jy is oortrek van die wurms.”

Buite-bybelse beskrywings

Die beskrywing van die doderyk in die Bybel is soortgelyk aan die uitbeelding van die onderwêreld in ou Mesopotamië. In ʼn gedeelte uit die Gilgamesj-epos word die doderyk beskryf as “die huis wat diegene wat daar ingaan nie kan verlaat nie, op die pad waar reis net eenrigtingverkeer is. Die huis waar dié wat bly, ontneem is van lig, waar stof hulle kos is, en klei hulle brood. Hulle is geklee, soos voëls, met vere, en hulle sien geen lig nie, en hulle woon in duisternis. Oor die deur en die grendel het die stof gaan lê”. [1]

Die Griekse voorstelling van ʼn onderaardse koninkryk van skimme (hades in Grieks) verskil ook nie veel van die antieke Israelitiese uitbeeldings nie.

Die lot van die afgestorwenes

Prediker 9:4 illustreer duidelik hoe vreeslik die lot van die afgestorwenes is: “ʼn Hond wat lewe, is beter as ʼn leeu wat dood is.” Die afgestorwenes is afgesny van die wêreld van die lewendes. Hulle het selfs nie meer kontak met God nie. Maar dit beteken nie dat God nie die onderwêreld kan sien nie. Volgens Amos 9:2 kan God die goddeloses ook daar vind.

Terugkeer vanuit die gebied van die afgestorwenes is volgens die Ou Testament nie moontlik nie, hoewel opstanding uit die dood nie as onmoontlik beskou is nie (Psalm 30:4; Jesaja 26:19; Esegiël 37:12).

Die verwagting van ʼn universele opstanding uit die dood aan die einde van die tyd kom slegs voor by Daniël 12:2, wat lui:

“Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting.”

 

[1] Stephanie Dalley, Myths from Mesopotamia. Creation, The Flood, Gilgamesh, and Others (Oxford University Press, Oxford, Hersiene Uitgawe 2000), p. 89.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS