Bible Society of South Africa

Rotsgraf

Vanaf die eerste tempelperiode (omstreeks die agtste eeu voor Christus tot 586 v.C.) tot aan die einde van die tweede tempelperiode (eerste eeu v.C. tot 70 n.C.) is mense in Israel in grafkelders begrawe wat uit rotse gekap is.

Eerste tempelperiode

Teen die mure van die grafkelders is rakke in die rots uitgekap. Liggame is op hulle rûe op hierdie rakke neergelê, toegedraai in doeke (bv linne). ʼn Grafkelder kon daarom verskeie lyke op dieselfde tyd huisves.


Onder die rak waarop die liggaam gelê het, is ʼn gat gegrawe. Die beendere van die ouer liggame is daarin gestoor om plek te maak vir nuwe liggame.


Baie van die grafte wat naby Jerusalem ontdek is, was pragtig versier en die skilderwerk en versierings het Egiptiese en Fenisiese invloede vertoon.


Grafgeskenke is saam met die liggaam begrawe. Hierdie geskenke het erdewerk, olielampe, juwele, stempels en soms munte of gelukbringers ingesluit.

Interimperiode

Tussen die sesde eeu en die eerste eeu v.C. is min nuwe grafkelders in gebruik geneem. Grafkelders was vir die elite, en ná die val van Jerusalem is die meerderheid van die elite na Babilonië weggevoer (Babiloniese ballingskap). Dit was eers weer tydens die Hasmonese tydperk (ná die eerste eeu v.C.) dat grafkelders wat uit rots gekap is weer rondom Jerusalem gebruik is.


In die interimperiode is mense in die grond begrawe maar die grafkelders wat uit rots gekap is, is ook weer gebruik.

Tweede tempelperiode

Sedert die eerste eeu v.C. is grafkelders wat uit rotse gekap is weer in gebruik geneem, deels onder die invloed van die Hellenisme, waarin dit ʼn algemene metode was om mense te begrawe. Daar was ʼn aantal opmerklike verskille vergeleke met die grafkelders uit die eerste tempelperiode:

  • die binnekant van die grafkelders is toenemend ryklik versier;
  • die ingang het groter geword met ʼn uitgeboude ingang. Op sommige plekke is volledige strukture gevind wat bo-op die grafkelder gebou is;
  • die afgestorwenes is nie meer op die rakke al langs die muur geplaas nie, maar in nisse wat op vloerhoogte in die muur uitgekap is;
  • mense het spesiale kiste (ossuaria/beenderehuise) gebruik om bene in te bewaar, in plaas van in ʼn gat in die grond.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS