Bible Society of South Africa

Spykerskrif

Die naam spykerskrif beteken letterlik “wigvormig” en word afgelei van die vorm van die merkies waaruit die verskeie skriftekens bestaan. Dit is van links na regs op kleitablette geskryf.

Skrywers

Spykerskrif was baie moeilik. Dit het jare se intensiewe studie geverg om die lees en die skryf daarvan te bemeester. Dit het beteken dat kennis van hierdie skrif beperk was tot ʼn spesiale groep skrywers. Hulle was in diens van die tempel of die paleis en was hoog in aansien.

Geheime taal

Gewone mense in Mesopotamië kon nie lees of skryf nie. Vir die meerderheid van die bevolking was die skrif soos ʼn geheime taal. Slegs die skrywers het toegang tot die skryfwêreld gehad en daardeur tot die wêreld van kennis: die ou tradisies wat op ʼn reeks kleitablette vasgelê en sorgvuldig oorgeskryf en bestudeer is. In hierdie wêreld was skrywers ook kenners. 

Ontdekking van spykerskrif

Spykerskrif was in gebruik tot na die begin van die jaartelling, maar dit is eers weer in die 19de eeu ontdek toe die ruïnes van die stad Nineve in die hedendaagse Irak opgegrawe is. Danksy hierdie en ander ontdekkings is die beskawing van antieke Mesopotamië geleidelik blootgelê en duisende kleitablette met spykerskrif is ontdek.

Ontsyfering van die spykerskrif

Spykerskrif is in die tweede helfte van die 19de eeu gedekodeer. Tradisioneel word erkenning gegee aan die Engelsman Henry Tawlinson vir die ontsyfering van die spykerskrif. Dit is egter deesdae bekend dat die Ier Edward Hincks minstens soveel reg het om erkenning daarvoor te ontvang.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS