Wie is hierdie Man? – Dag 6
God buig neer na ons
Bybelteks(te)
EFESIËRS 4
Toe my kinders klein was, het ons vir hulle ʼn konyn gekry. Sy naam was Broloks, ʼn liewe konyn, maar nogal bang. Wanneer ons vir hom kos geneem het, het hy altyd vinnig na sy hokkie gehardloop, asof ons reusagtige roofvoëls was waarvoor hy moes vlug. Al het ons ook gesê “Broloks moet nie bang wees nie”, kon ons hom nooit vertel hoe lief ons vir hom is nie. Hy praat nie mensetaal nie. Vir Broloks was ons oneindige groot, tweebeen wesens.
Dis jammer dat ons nie konyntaal kon praat nie. Maar daarvoor sou ons self konyne moes word om werklik met Broloks te kommunikeer. Dit is natuurlik nie moontlik nie. Maar veronderstel dat ʼn mens ʼn konyn kon word, dan is dit nog niks in vergelyking met God wat ʼn mens geword het nie. Die God wat alles gemaak het, het die gestalte aangeneem van die materiaal wat Hy self gemaak het.
Dit het God gedoen om ons van sy liefde en sorg te oortuig. Hy is nie die onbegryplike groot God vir wie ons bang hoef te wees nie. Hy is nie die bose God wat oor die konynhok-aarde buk om ons bang te maak nie. Hy is die liefdevolle God wat dit wou kom demonstreer.
Deur mens te word het God nader aan ons as ooit tevore gekom. As julle nie na My toe kan kom nie, dan kom Ek maar na julle toe. Sy intense betrokkenheid by die wêreld het sigbaar geword. Deur ons wêreld binne te kom, wys Hy hoe belangrik jy vir Hom is en hoe ernstig Hy die wêreld opneem. Die liefde lê ʼn klein vertederende baba bloot.