Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 3

Hoe het dit begin?

Bybelteks(te)

17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was.

EFESIËRS 2:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Karel en Estie sit weer verveeld in die kerk en kyk voor hulle uit. Voor in die kerk probeer ʼn paar ouens met kitare en ʼn paar sangers die gemeente in aanbidding lei. Al weer ʼn preek oor Jesus. Weer op die stofgetrapte paadjies. Woorde wat hulle al ʼn duisend keer gehoor het. Die verveling op hulle gesigte gee ʼn duidelike boodskap: Ek is ʼn moderne mens, ek praat die taal van hierdie tyd en ek is interaktief.

Die dominee worstel met hierdie vraag: Hoe bereik hy die lidmate? Daar is ʼn kommissie besig met die vraag: Hoe bereik jy die mense van hierdie tyd? Daar word wyd ondersoek gedoen. Hoe lank kan hulle luister? Watter taal spreek hulle aan? Van watter soort musiek hou hulle? Hoe kan ʼn mens van moderne kommunikasiemedia en sosiale media gebruik maak? Die menings onder die lidmate verskil. Dit ook nog! Is geloof dan net ʼn kwessie van smaak?

Die dominee besluit dat hy tog maar net die Bybel sal laat praat. Maar dan modern en prikkelend. Hy wil deur hulle vooroordeel probeer breek. Hy vra die luisteraars of hulle hul een-en-twintigste-eeuse Reeboks en Nikes wil uittrek en ʼn paar leer sandale van die Israeliete wil aantrek om saam met hom op ʼn reis te gaan. Sy vraag aan die luisteraars is: Wie is Jesus vir jou?

Die dominee begin by die heel begin, hoe God mens geword het. En hoe God met die geboorte van sy Seun ʼn nuwe benadering gevolg het. ʼn Benadering wat nie klem lê op die groot afstand tussen God en mense nie, maar in plaas daarvan die kloof sou oorbrug. Onbegryplik vir die Jode wat nie eens die Naam van God durf uitspreek nie. Die begin van Jesus se loopbaan was verrassend en nie wat mense verwag het nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS