Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 9

Die Voorvegter

Bybelteks(te)

21Moenie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is 'n groot en magtige God.

DEUTERONOMIUM 7:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.’

DEUTERONOMIUM 20:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Israeliete het by ʼn opwindende, maar tog vreesaanjaende stadium in hulle geskiedenis as God se uitverkore volk gekom. Hulle was op die punt om die beloofde land binne te gaan en die vervulling van God se belofte te beleef, maar hulle was vreesbevange omdat hulle die sewe nasies, wat dit reeds besit het en wat groter en sterker as hulle was, moes verdryf voordat hulle hul daar kon vestig.

Ons weet almal van die oorlewing van die sterkste en kan dus baie goed identifiseer met die uitdagings wat die Israeliete, as die kleiner groep, moes oorkom. Ons hoor dikwels van situasies waar swakker groepe deur die sterker groep tot onderdanigheid gedwing word, of dit nou in die natuur, politiek of op die speelgrond is. Soms, soos in die geval van politieke aggressie, kan die swakker groep uiteindelik uitgewis word. Dit is geen wonder dat die kleiner groepe kwesbaar en vreesbevange voel en ʼn behoefte aan beskerming het nie. Miskien het jy al iets daarvan ervaar.

Dit was ook nie anders met Israel nie. Net soos twee opponerende sportspanne reeds weet wie die sterker span is selfs voordat die wedstryd begin, so het die Israeliete, ʼn klein groep stamme wat vir jare in die woestyn was, geweet dat ʼn gedugte vyand op hulle wag. Maar hulle was God se volk.

Hulle het ʼn “Voorvegter” gehad: die Een wat hulle deur Moses uit Egipte geroep het — God, die Here self. Hy verseker hulle van sy liefde vir hulle en herinner hulle daaraan dat getalle nie vir Hom saak maak by die uitvoer van sy plan nie. As hulle Verlosser, en op grond van sy belofte aan hulle voorvaders, beloof Hy dat Hy saam met hulle sal wees om teen hulle vyande te veg en vir hulle die oorwinning te gee. Wat ʼn wonderlike God!

Wat dit ons van God vertel is dat Hy ʼn passie vir sy volk en hulle welstand het. Hy is so besorg oor hulle dat hy ʼn “Voorvegter” vir hulle sal wees. Hy weet dat hulle swak en min in getal is, maar Hy word nie deur hierdie eksterne dinge geraak nie; Hy wys net sy mag en krag al hoe meer. Vandag is Hy steeds besorg oor sy kinders en veg steeds vir hulle!

As jy aan God behoort, hoef jy nooit bang te wees vir die uitdagings wat oor jou pad kom nie, want God is steeds ʼn “Voorvegter” vir sy kinders!

Wie is God? Is Hy jou “Voorvegter”?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS