Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 4

Hy wat my sien

Bybelteks(te)

13Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is 'n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”

GENESIS 16:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Naam is baie belangrik. Dit is die wyse waarop ʼn persoon as ʼn individu uitgesonder word en waardigheid ontvang; niemand wil ooit sy hele lewe lank na verwys word as “seun”, “meisie” of “dit” nie. Jou naam bepaal wie jy is; dit is hoe jy aan mense voorgestel word en hoe hulle dan na jou verwys.

ʼn Naam beteken gewoonlik ook iets wat dikwels in die persoonlikheid of karakter van die persoon weerspieël word. Verwagtende ouers het die moeilike taak om ʼn naam, waardig vir hulle baba, te kies en dit neem soms ʼn volle nege maande om dit te doen.

In Genesis 16:13 vind ons die verrassende voorbeeld van Hagar, ʼn jong slavin, wat ʼn naam aan God gee. Hy is vir haar “die God wat my sien”. Sy gebruik nie ʼn enkele eienaam nie, maar wel haar ervaring van een van sy eienskappe.

Sy het nie, soos Abram, die voorreg gehad dat God haar persoonlik besoek het nie, maar God se optrede het tog aan haar bewys dat Hy net so bewus was van haar, die slavin, as wat Hy van haar meester Abram was. Trouens, dit was die ongeduld van Abram en sy vrou, Sarai, om God se belofte in hul oënskynlik hopelose situasie vervul te sien wat Hagar in die eerste plek in hierdie ernstige verknorsing laat beland het.

Die Here het Abram belowe dat Hy ʼn menigte nasies uit sy nageslag sou bou, selfs al was Sarai onvrugbaar en te oud om swanger te word. Abram en Sarai het menslike redenasie en logika gebruik om God se belofte te interpreteer, en sodoende besluit om Sarai se jong slavin te gebruik om die kind te voorsien. Toe God, op sy beplande tyd, die wonderwerk laat gebeur en Sara geboorte aan Isak skenk, is Hagar en haar seun, Ismael, na die woestyn verban. Hulle sou daar gesterf het, was dit nie vir die versorging van God wat hul desperate situasie gesien en hulle gered het nie.

Ons beleef almal oomblikke wat ons soos Hagar hulpeloos, broos, weerloos en alleen voel, en ons wonder of iemand enigsins weet of omgee dat ons bang en desperaat is. Vertrou ons op “die God wat my sien” om ons te red?

Wie is God vir my?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS