Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 5

Die Een wat lewens verander

Bybelteks(te)

28Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”

GENESIS 32:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Nadat Jakob uit Paddan-Aram terug was, het God weer aan hom verskyn en hom geseën. 10God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.”

God het hom toe Israel genoem.

11God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings.

GENESIS 35:9-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al ooit daaraan gedink om jou naam te verander? Sou jy dit verander as dit sou beteken dat jy nuut kan begin?

Dit is selde dat ʼn mens iemand ontmoet wat sy lewe lank heeltemal tevrede is met sy naam, maar die meeste mense sal, met verloop van tyd, aan hul naam gewoond raak en dit as volwassenes behou, selfs al is dit nie wat hulle self sou gekies het nie. Dit gebeur egter dat mense baie moeite doen om hul naam te verander, want dit bevat konnotasies wat hulle verkies om te vergeet. Miskien was daar ook aan Jakob se naam konnotasies geheg wat eerder vergeet moes word, en dit is God self wat die verandering van sy naam vir hom aankondig, en wel op so ʼn manier dat dit vir hom nuwe status gee.

In die Bybel is daar geen aanduiding wat Jakob van sy naam gedink het nie, maar in hierdie gedeeltes in Genesis 32 en 35 lees ons van die twee geleenthede wat God aan Jakob verskyn en aankondig dat, omdat Jakob hom waardig bewys het, Hy sy naam gaan verander en dat groot seën met die nuwe naam sou kom. ʼn Mens wonder hoekom dit vir God belangrik was om ʼn man se naam te verander en wat dit ons leer van God se karakter?

Ons besef dat God ʼn plan vir die mens het en dat Hy oor die mag beskik om lewens te verander, maar met hierdie verandering gee Hy ook ʼn nuwe begin en wis dit wat vooraf gebeur het uit. Vroeër in Genesis lees ons dat Jakob nie ʼn baie eerlike karakter was nie. Hy was sy ma se gunsteling en hy is aangemoedig om op ʼn bedrieglike wyse sy tweelingbroer, Esau, se geboortereg te verkry deur vir sy bejaarde pa ʼn leuen te vertel om sodoende sy seën te bekom. Ongelukkig het hierdie sonde vyandskap tussen hulle veroorsaak wat meegebring het dat Jakob vir twintig jaar in ballingskap was.

Maar toe God sy naam verander het, het Hy vir Jakob ʼn nuwe begin gegee en ʼn nuwe karakter om na te streef. Deur God se genade was dit vir Jakob moontlik om sy verlede agter te laat en vorentoe te beweeg in volle vertroue op God wat hom geseën het.

Wie is God vir my?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS