Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 21

Liefde

Bybelteks(te)

God is liefde

7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.

1 JOHANNES 4:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Liefde is werklik een van die belangrikste fokuspunte in die wêreld en dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, jy is bewus van liefde. Vir die mens is een van die belangrikste dinge in die lewe om verlief te raak, ʼn lewensmaat te vind en om vir altyd daardie persoon lief te hê. In wese is dit iets wat ons geluk en ons lewe beïnvloed. Ons word egter geleer om ander mense ook lief te hê, en nie net ons eggenoot en families nie. Dit behoort vir ons geen verrassing te wees nie want liefde en toewyding kom van God af. Liefde is in Hom gewortel. Die woord “liefde” kom 314 keer in die 1983-vertaling voor, wat baie insiggewend is en waarvan ons kan leer.

“God is liefde” is moontlik die maklikste stelling oor God om te glo, omdat ons oral om ons bewyse daarvan kan sien. Alles in hierdie wêreld is deur Hom geskep om seën, lewe en vervulling aan elke persoon te gee — daar is geen uitsonderings nie. Niks is maar net per ongeluk nie! Liefde is werklik die diepste vlak van verhoudings en verg voortdurende opofferings. Dit beteken om ander op dieselfde vlak as jouself te plaas en om hulle behoeftes eerste te stel. Op dieselfde manier wat ʼn man en ʼn vrou versigtig ʼn tuiste vir hulleself en hul gesin skep, niks binne hulle vermoë agterweë laat om dit mooi en gerieflik vir mekaar te maak nie, geniet God dit om ʼn wêreld van skoonheid te skep wat deur almal wat dit bewoon, geniet kan word. Hy keer niemand om dit wat Hy gemaak het te geniet nie, en Hy ontsê niemand hulle basiese behoeftes nie. Hy verwag van ons om die wêreld wat Hy gemaak het te geniet, om dit met mekaar te deel en in sy liefde te leef.

Jesus sê in Matteus 5:43-45: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” Wat ʼn wonderlike karaktereienskap van ons genadige, liefdevolle God. Hy gee vrylik aan almal. Hy wil ook dat ons sy voorbeeld volg en almal liefhê; nie net vir hulle wat ook vir ons lief is nie.

In Johannes 15:13 sê Jesus: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat Hy sy lewe vir sy vriende aflê.” God stel vir ons hierdie voorbeeld deurdat sy Seun sy lewe vir die wêreld afgelê het om te bewys hoe groot sy liefde vir hierdie wêreld en vir ons is.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS