Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 22

Die Ewigheid

Bybelteks(te)

Die sewende trompet

15Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het:

“Die koningskap oor die wêreld

behoort aan ons Here en sy Gesalfde,

en Hy sal as koning heers

tot in alle ewigheid.”

DIE OPENBARING 11:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die opwindendste ervarings waarin ek my verlustig, en wat ek geseënd was om reeds ʼn paar keer in my lewe te kon beleef, vind plaas tydens die opvoering van Handel se “Messias” wanneer die “Halleluja Koor” gesing word. Die briljante, geïnspireerde musiek wat opbou na die crescendo; die wonderlike woorde wat by die musiek pas, die beelde wat hulle optower, en die gehoor wat opspring wanneer die klanke van die Halleluja Koor dawerend begin, is iets wat ek wens elke mens ten minste een keer kan beleef. Nie net het dit so ʼn diepgaande uitwerking dat ʼn mens wil huil nie, maar dit gee ook ʼn gevoel van hoe dit in die hemel moet wees, waar elke wese verenig is in hulle lofprysing van die Almagtige God! Hy is die Een wat vir ewig en altyd sal regeer. Maar wat en wie het hierdie werk geïnspireer?

In hierdie laaste ondersoek van wie God is, neem hierdie opwindende vers in Openbaring 11:15 ons reguit na die toekoms en die hemelse dinge, wanneer die wêreld die oorgang sal maak om direk en vir ewig deur God regeer te word. Ons sal in sy teenwoordigheid wees! Dit is duidelik hierdie waarheid wat Handel se Messias geïnspireer het, en hierdie waarheid weerklink ook regdeur die Bybel.

Reeds vroeg in die Bybel, in Eksodus, komponeer Moses en Mirjam ʼn lied van oorwinning met dieselfde tema. Na die farao en sy leër verslaan is, en hulle met ontsag gevul is vir God se groot mag en krag waardeur Israel bevry en hulle vyande verslaan is, sing hulle as deel van hulle lied: “Die Here regeer tot in ewigheid!” (Eksodus 15:18). Dit was hoe hulle die Here ervaar het wat namens hulle op ʼn wonderbaarlike wyse geveg het.

Dawid verklaar in die psalms oor die genade van God: “Die Here bly altyd koning, die vyande is uit sy land verdryf … U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood, sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie” (Psalm 10:16,18).

Selfs die skrywer van Klaagliedere, te midde van sy berou oor die sonde van Israel, verklaar: “Maar Ú, Here, U heers vir altyd, u troon staan vas van geslag tot geslag” (Klaagliedere 5:19). Die bekende koning, Nebukadnesar, nadat hy gesien het hoe God Sadrag, Mesag en Abednego uit die brandende oond red, terwyl die hitte daarvan sy eie soldate verteer, verkondig: “Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is ʼn ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot geslag” (Daniël 4:3).

Wat sê jy? Wie is God?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS