Wie is God – Dag 19
Die Redder
Bybelteks(te)
PSALMS 73
Die woorde in Psalm 37:2 herinner my aan ʼn onlangse stapsessie met die honde op ʼn nat namiddag. As gevolg van die reën was die honde vol energie en meer as gereed om sirkels om my te hardloop. Dit was glad, my skoene kon nie altyd vastrapplek kry nie, en ek het meer as een keer gegly en amper geval, maar deur God se genade het ek daarin geslaag om myself reg te ruk om verder agter die honde aan te hardloop!
Wanneer ons hierdie psalm lees, is dit duidelik dat dit niks te make het met fisies gly soos ek ervaar het nie, maar met geestelik gly. Asaf, die psalmis, het toegegee aan die sonde van jaloesie en afguns en dit pla hom so baie dat dit besig is om sy lewe te affekteer. Dit is vir hom soos ʼn kanker wat aan hom vreet en hy kan nie ophou om sy lewe van eenvoudige toewyding aan God te vergelyk met dié van sy geweldadige, gevoellose onderdrukkers wat hom bespot nie. Dit pla hom dat dit lyk asof God hulle met groot rykdom, mag en gesonde, sorgvrye lewens seën. Hy folter homself met hierdie gedagtes en vra voortdurend hoekom hulle suksesvol is en hy nie.
Dit is ongelooflik hoe dikwels ons dinge net uit ons eie perspektief kan sien, en dit is baie vernederend wanneer ʼn mens dan besef dat jy verkeerd is. Ongeag wie die ander persoon is of wat hy doen, is dit jy wat wegkyk van God se plan vir jou lewe en op ʼn niksvermoedende persoon fokus op wie jy jou woede uithaal, en dikwels teleurstelling in jouself. Wanneer dit gebeur, kyk ons terug en sien dat eksterne faktore baie kere ʼn rol daarin gespeel het. Daar was eintlik geen rede om die ander persoon of sy situasie te beny nie, maar hy was ongelukkig net daar tydens een van jou swak oomblikke en het so ʼn slagoffer van jou veroordeling geword.
Dit tel in sy guns dat Asaf sy skuld raaksien toe hy in die tempel gaan aanbid. Hy leer watter lot op die goddeloses wag, hy erken sy eie sonde en bely dit voor God. Hy besef dat hy amper van die pad van waarheid afgedwaal het, omdat hy die hooghartige goddeloses beny het. Hy erken dat dit wat hy besit, baie kosbaarder is as enige aardse rykdom en spreek hierdie pragtige woorde van kinderlike geloof tot God:
“Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd” (Psalm 73:23-26).