Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 13

Groot Gedagtes

Bybelteks(te)

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

JESAJA 55:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ʼn mens hierdie skynbaar eenvoudige woorde in Jesaja 55:8-9 vir die eerste keer lees, lyk dit asof alles duidelik is, maar wanneer jy oor die betekenis begin nadink, besef ʼn mens waarom daar so baie dinge in die lewe en in die Bybel is wat ons nie verstaan nie. Kyk ons na die skitterende opdragte, wette, gedigte, profesieë, spreuke en verhale wat die Bybel bevat, verstaan ons in ʼn geringe mate iets van God se groot gedagtes, maar ons erken nie altyd dat Hy ons Skepper is en dat Hy nie altyd volgens ons begrip handel nie. Diegene wat in Hom glo en ʼn pad saam met Hom loop, sal erken dat hulle soms dinge ervaar wat net sin maak as daar met ʼn geloofsoog daarna gekyk word.

Wanneer ʼn mens daaraan dink hoe ver die hemel van die aarde is, is dit duidelik dat die woordprentjie in ons teks probeer om die groot verskil tussen ons menslike verstand in vergelyking met die volmaakte begrip van God aan te dui, en dus ons optrede soos dit verband hou met ons verstand en dié van God soos dit verband hou met Syne.

Ouers, onderwysers en, om die waarheid te sê, enige persoon wat iets moet oordra aan diegene wat, om watter rede ook al, nie op dieselfde vlak as hulle is nie, sal weet hoe verkeerd dinge kan loop as gevolg van ʼn misverstand, of die blote verontagsaming van instruksies. Baie kinders voel dit is onregverdig as hulle ontneem word van sekere dinge wat hulle vriende wel toegelaat word, of as hulle skole daarop aandring dat hulle die reëls gehoorsaam. Hulle is nie in staat om die groter prentjie te sien nie; dat dit in werklikheid is omdat hulle ouers en skool hul welstand op die hart dra.

Dink byvoorbeeld hoe ʼn eenvoudige, plesierige aktiwiteit soos om met die hond te gaan stap in ʼn nagmerrie kan verander as die hond, in sy “wysheid”, sy leiband ontglip om al die plekke waar sy baas hom nie toelaat nie, te gaan ondersoek: daardie deel van die park waar die kwaai honde is, of die besige hoofweg aan die einde van die welige groen veld waar daar nie ʼn heining is nie. Duidelik is die hond van hierdie plesier vir sy eie beswil en veiligheid ontneem, maar net soos ʼn kind nie sy ouers se optrede kan verstaan nie, kan die hond ook nie sy baas verstaan nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS