Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 12

Ons Leier

Bybelteks(te)

21Wanneer jy die regte koers verlaat,

sal jy agter jou 'n stem hoor sê:

“Hier is die pad, loop hierlangs.”

JESAJA 30:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die lewe is ʼn reis wat die mens onderneem vir die aantal dae wat aan hom op hierdie aarde gegun word. Dit is ʼn opwindende reis omdat ons vryheid van keuse gegee word en besluite kan neem soos ons vorder. Partykeer is dit egter ook ʼn eensame reis vol uitdagings.

Ons almal weet dat selfs as ons op die eenvoudigste reis gaan, kan dit net suksesvol wees as ons die regte roete kies en nie langs die pad verdwaal nie. Stel jou voor hoe ʼn honger gesin sal voel as die moeder van die huis kruideniersware vir aandete in die dorp gaan koop en dan verdwaal en net na donker met leë hande terugkeer. Of wat sal gebeur as jy ʼn dringende besigheidsvergadering in Londen moet bywoon en die vliegtuig land in China?

Ek weet dat baie van julle dink dat die bogenoemde scenario’s hoogs onwaarskynlik is, maar besef julle hoekom dit onwaarskynlik is? ʼn Mens verwag tog van verantwoordelike en vindingryke mense om voorbereid te wees en boonop is daar wigte en teenwigte langs die pad. Daar is dinge wat jou op jou reis help, soos padtekens en GPS’e, en mense wat rigting kan aandui, soos die verkeerspolisie en lugverkeerleiers. Trouens, soms aanvaar ons net alles wat vir ons gegee word, as vanselfsprekend.

Net soos ons rigtingaanwysers benodig en op die infrastruktuur van ons dorpe en stede staatmaak om dit fisies aan ons te voorsien, het ons sekerlik ook geestelike leiding en rigting nodig. In Matteus 7:13 word ons gewaarsku: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.” Waar vind ʼn mens uit wat die smal poort is en hoe om daardeur in te gaan? Is dit nie soms ʼn versoeking om hierdie aspek van die lewe te ignoreer nie, want dit verlang van ons om te dink en spiritualiteit is ook iets wat tyd neem om te beoefen? God voorsien sy Woord en baie geestelike leiers om ons te help.

Weereens moet ons onsself afvra: “Wie se stem hoor ek wanneer ek na regs of na links afwyk en die regte pad verlaat?” Wie is dit wat so baie vir ons omgee dat as ons net aandagtig na daardie stil, kalm stem luister, ons sal hoor: “Hier is die pad, loop hierlangs”?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS