Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wat het hierdie Man kom doen? – Dag 2

Hy is tot sonde gemaak

Bybelteks(te)

29Hulle vleg 'n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom 'n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

MATTEUS 27:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die tyd van Jesus was dit in Jerusalem en Israel net so gespanne soos nou. Die Romeine het die gebied beset. Hulle het gevoel hulle is in beheer en het hard teenoor betogers en opstandiges opgetree. Leiers van ʼn opstand is sonder verskoning uit die weg geruim deur hulle te kruisig. So ʼn kruisiging was vir sommige soldate wat ver van die huis was ʼn afleiding.

Jesus is die hele nag voor sy kruisiging verhoor. Hy is veroordeel, onskuldig, met ʼn vals aanklag. Die soldate het Hom in die binneplaas van die hof gebring. Ruim ʼn honderd soldate het om Hom gestaan. Hulle het ʼn sombere en oordrewe speletjie met Hom begin speel: Koning-koning. Waarskynlik was dit Joodse soldate wat deur die Romeine gewerf is. Hulle het presies geweet wat Jesus Homself genoem het. Hulle voer ʼn spotspel op. Met die doringkroon op sy kop en pers mantel om sy skouers, buig hulle voor Hom: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

So gaan dit voort totdat Jesus aan die kruis hang. En toe gebeur ʼn merkwaardige ding. Twaalfuur, in die middel van die dag, word dit vir drie ure pikdonker, soos in die nag. In daardie drie ure van duisternis vind die oordeel plaas.

Oombliklik besef die mense om die kruis wat gebeur as God die wêreld aan sy eie lot oorlaat. Dan sal daar geen son en geen lig meer wees nie — en dus geen lewe.

In daardie oomblikke van duisternis sê die Bybel is Jesus tot sonde gemaak. Nou is daar ʼn mens, Jesus Christus, wat kry wat ons verdien. Na drie uur het dit weer lig geword, en die duisternis is verby. Die lig het die duisternis oorwin en Jesus die Satan.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS