Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wat het hierdie Man kom doen? – Dag 3

Die gordyn na die hemel oopgemaak

Bybelteks(te)

38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.

MARKUS 15:38AFR83Maak oop in die Bybelleser

Baie van ons het die gewoonte om die huis se gordyne toe te trek wanneer dit donker word. So kan al die nuuskierige oë ons nie sien nie.

Na die sondeval het daar ʼn gordyn tussen ons en God ontstaan. Uit onsself het ons nie meer geweet wie God is nie. God was newelagtig. Toe die tabernakel gebou is, het God self opdrag gegee dat daar ʼn gordyn moet wees wat sy woonplek, die Allerheiligste, afskerm. God het dit gedoen om die mense teen sy groot heiligheid te beskerm. Die gordyn in die tabernakel, en later in die tempel, was ʼn duidelike simbool dat alles tussen ons en God nie pluis was nie.

Markus is heel sober wanneer hy oor die gebeurtenisse rondom die sterwe van Jesus skryf. Hy skryf net die belangrikste feite op. As jy wil weet wat die kruisiging van Jesus beteken, weet dan dit: Toe Jesus deur God verlaat is en sterf, skeur die voorhangsel van bo na onder. Die priesters het nie die gordyn oopgetrek of geskeur nie, dit was asof ʼn geheimsinnige hand uit die hemel die gordyn tussen God en die mens oopgeskeur het. Weg met daardie gordyn. Nooit weer ʼn gordyn tussen God en die mens nie.

Hierdie enkele feit het groot betekenis. Nou is die pad na God weer oop. Jou en my skuld, wat die pad na God soos ʼn gordyn geblokkeer het, is betaal. Nou mag ek en jy vrymoedig by God kom.

Jesus self het gesê dat Hy die weg en die waarheid is. Nou dat daar weer ʼn pad na God is, die pad van vergewing, is ʼn gordyn nie meer nodig nie. God self het die gordyne van die hemel oopgetrek en vir jou gesê: Kom na My toe, jy mag my kind wees.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS