Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wat het hierdie Man kom doen? – Dag 1

Regter en ook middelaar

Bybelteks(te)

3Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here.

Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie

en nie oordeel volgens hoorsê nie.

4Hy sal die armes billik verhoor

en die ootmoediges in die land regverdig oordeel.

Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel,

met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring.

JESAJA 11:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus het sy lewe vir die wêreld en vir jou gegee. Hy het nie sy gawes vir Homself teruggehou nie. In diens van die wêreld het Hy sy hoofrol tot die einde toe uitgespeel. As ʼn mens leer sien wie Jesus is, dan kom die vraag by ʼn mens op: Wat het die Seun van God hier op aarde kom doen?

In die misdaadriller getiteld Aarde het die regter self na die aarde gekom. Die regsaak gaan begin. Jesus is nie ʼn regter wat ver verwyder staan en vanuit sy paleis van justisie ʼn oordeel fel nie. Hy kom om self die misdaadtoneel te ondersoek. Al pratend en prekend verduidelik Hy wat nou eintlik aan die gang is. Die een na die ander motief in die misdaadriller kom na vore. Met sy woorde ontmasker Hy die groot misdadiger: Satan. Jesus se lewende woorde is vlymskerp en prontuit eerlik. Die Evangelies word die lywige dossiers van die regsaak. Deur daarin te lees is dit duidelik wie die skuldiges is: ons.

Maar die ongelooflike gebeur. Die regter self word vermoor.

Jy kan van God dink en sê wat jy wil, maar nooit kan jy sê dat dit vir Hom oor mooi woordjies gaan nie. Nadat die mensheid vir eeue voortgeploeter het, verskyn Jesus op die toneel. En by Jesus het dit nie oor mooi woorde gegaan nie. Hy het die daad by die woord gevoeg en besluit om sy lewe te gee om die diepste probleem van die mens op te los. In die regsaak teen die wêreld was Jesus die Een wat die beslissende stap geneem het. Die spykers in sy hande en voete het ons verlossing beklink. Sy sterwe het ʼn nuwe era in die verhouding tussen God en die mensheid gebring.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS