Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 6

Liefde verander alles en almal!

Bybelteks(te)

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Hele paar jaar gelede het die animasierolprent Lilo & Stitch in teaters gewys.

Die verhaal gaan oor ʼn wetenskaplike wat ʼn ruimtewesentjie met die naam Stitch skep. Hy het ʼn negatiewe persoonlikheid en is geskep met die doel om te breek en te vernietig.

Toe word hy verban aarde toe en hier ontmoet hy ʼn eensame dogtertjie met die naam Lilo. Sy het hom liefgehad, al was hy lelik met haar. Al het hy ook alles gebreek waarvoor sy lief was, het sy hom steeds net liefde gegee! Sy het eenvoudig aangehou om hom lief te hê! Haar liefde maak toe vir Stitch ʼn liefdevolle wese (wat eintlik teen sy aard is). Skielik het hy verstaan wat is liefde en toe begin om dit positief uit te leef.

Die film het my aan die mensdom laat dink. Ons is eintlik vanweë ons sondige natuur – nes Stitch – nie tot iets goeds in staat nie, maar die liefde van die Here aan die kruis het ons heeltemal verander. God het ons altyd lief, al breek ons dit wat Hy geskep het en al doen ons die verkeerde dinge. As jy glo dat Jesus Christus se liefde so groot is, dat Hy gekom het om in jou plek die straf te dra, sal dit jou lewe verander! Jy sal heeltemal nuut word. Jy sal oorweldig word deur die liefde van die Here en dit sal jou weer vol liefde maak.

Liefde se krag moet nooit onderskat word nie. Daar is niks so sterk soos liefde nie. Dit verander selfs die hardste en sondigste mens. Liefde het lewensveranderende krag. As jy elke dag aanhoudend liefde bewys, sal dit ʼn groot invloed op die mense rondom jou hê!

Ons is nie altyd lus om mense lief te hê nie, maar hoe meer opregte liefde jy vir iemand gee, hoe groter is die kans dat hulle ook daardie liefde sal ontvang!

Deur lief te hê kan jy iemand anders se lewe verander, net soos Jesus jou lewe verander het deur sy liefde!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS