Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 5

Nuwe seisoen, ja – maar nie uit eie krag

Bybelteks(te)

Gebedsverhoring

7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

MATTEUS 7:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

MATTEUS 6:33AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het reeds ʼn nuwe seisoen in ons lewens bespreek. Ek het genoem dat ʼn nuwe seisoen net kan gebeur as jy oop is vir verandering . Dit vra ook ʼn positiewe gesindheid en ʼn vrolike hartsingesteldheid. Na alles is dit belangrik om te besef dat ons nie ʼn nuwe seisoen op ons eie kan bereik nie. As ons die bergpredikasie lees (Matteus 5–7), waar Jesus die waardes van ʼn nuwe lewenstyl uitwys, word afhanklikheid van God en voordurende gebed deurlopend beklemtoon. Jy sal nie ʼn nuwe seisoen kan begin as jy nie jou afhanklikheid van God besef en ʼn ryk gebedslewe voor die Here het nie. Alles wat ons in ons eie kragte begin, hou nooit lank nie. Hoe meer jy vernuwing in jou lewe begeer, hoe meer moet jy jouself in gebed voor die Here verootmoedig. Om te bid is om te erken jy is van alles van God afhanklik. Vernuwing kan net geskied indien jy dit van die Here vra!

Saam met die voorneme van ʼn nuwe seisoen moet ons ook eers die wil van die Here soek. Watter voorneme jy ook al het, toets dit eers aan die wil van die Here. Vra Hom om jou met die pad van vernuwing in jou lewe te vergesel en weet dat jy dit nie sonder Hom kan doen nie.

In Matteus 6:33 staan: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Vernuwing in ons lewens doen ons almal goed, maar dit gaan egter net blywend wees indien ons die Here se wil vir ons lewens soek, ons afhanklikheid aan Hom bely en elke dag in gebed vir Hom vra om ons te help sodat die vernuwing in ons lewens tot die eer van die Here sal wees!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS