Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 4

Om te lag

Bybelteks(te)

22'n Vrolike mens is 'n gesonde mens,

'n neerslagtige mens raak uitgeput.

SPREUKE 17:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die begin van die lente gee weer vir ons die geleentheid om positief en vrolik na die lewe te kyk. Om die positiewe en ligter kant van die lewe raak te sien maak jou nie net geestelik gesond nie, maar gee vir jou nuwe energie, soos ons in Spreuke leer. Die Bybel verwys op verskeie plekke na vrolikheid en vreugde. Daar word in die Bybel baie humor gebruik. Die Nederlandse skrywer Okke Jager het destyds ʼn boek geskryf oor humor in die Bybel waarin hy uitwys dat die Bybel vol ironie en humor is wat ʼn mens laat glimlag.

Die Amerikaanse tydskrif The Week berig dat die endotelium (die weefsel wat bloedvate omlyn) uitsit of verwyd wanneer ʼn mens lag. Dit verhoog die bloedvloei in jou are. Daarom, word beweer, verlaag dit jou risiko vir ʼn hartaanval wanneer jy baie lag. Volgens mediese navorsers veroorsaak lag ook laer stresvlakke en beter gesondheid. Geestelike inspanning vernou die bloedare, terwyl lag die teenoorgestelde uitwerking op jou are het. Dit is dus vir jou geestesgesondheid beter om gereeld te lag! Jare gelede het ʼn hoof van die neurochirurgiese afdeling by die Groote Schuur-hospitaal gesê: “Die algemeenste vorm van lyding is nie pyn nie, maar neerslagtigheid.” Lag help dat ons eerder die positiewe in ʼn situasie raaksien as die negatiewe. Dit help om ons positief te hou! Dit is tog ʼn sielkundige feit dat die meeste mense net so gelukkig is as wat hulle hulself voorneem om te wees. Daar is geen lekkerder en soeter medisyne as om te lag nie.

ʼn Kenner op die gebied van gesonde leefstyle vertel dat 30 minute se oefening (drie keer per week) saam met 15 minute se hartlike lag (daagliks) goeie gesondheid tot gevolg sal hê. Daar is genoeg navorsing wat bewys dat volwassenes minder sorge sou hê indien hulle meer spontaan soos kleuters is. Dit is ook in die opsig dat ons meer soos kinders na die lewe moet kyk.

Dit is ʼn jammerte dat so baie mense God se natuurlike medisyne – lag, humor en vrolikheid – heeltemal ignoreer. Ons kan nie verbeter op God se plan nie. Maak vandag tyd om te lag en vrolik te wees. Dan sal jy sien hoe jou gesondheid, geestelike energie, en die mense rondom jou verander!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS