Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 3

Gee aandag aan die positiewe dinge in jou lewe

Bybelteks(te)

2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,

KOLOSSENSE 3:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Almal ken Die Skewe Toring van Pisa in Italië, die gewilde geskiedkundige baken wat goud werd is vir die Italiaanse toerismebedryf. Baie jare terug het ʼn span ingenieurs besef dat die kloktoring stadig maar seker besig is om te kantel. Die vrees het ontstaan dat die toring heeltemal kon omval. Jaar na jaar het die toring met sentimeters al hoe skuinser geword. Kundiges het alles probeer om die toring te stabiliseer maar sonder enige sukses. Hulle was so bang dat dit sou omval dat daar in 1990 besluit is om die toring tydelik te sluit vir besoekers. In 1992 het iemand voorgestel dat hulle totaal nuut moet dink oor hoe om die toring te red. Daar is met herstelwerk en restourasie begin en lood is aan die teenoorgestelde kant geplaas. Dit was so suksesvol dat die toring na ʼn paar jaar na sy normale skuinste teruggekeer het. Hulle poging om aan die positiewe kant van die toring aandag te gee het toe resultate opgelewer. Al die jare het hulle net op die skewe kant gefokus maar dit het net meer gekantel. Toe hulle begin om aan die ander kant van die saak aandag te gee het dit positiewe resultate gelewer en kantel die toring nou minder.

Ons kom soms voor ʼn probleem of uitdaging te staan en spandeer baie tyd en energie om die probleem op te los. Dan konsentreer ons net op die probleem en gee baie energie daaraan. In die meeste gevalle pas ʼn mens dan skadebeheer toe, maar die krisis self gaan nie weg nie. Hierdie verhaal leer ons dat die fokus met probleemoplossing eerder op die positiewe in die situasie moet wees. Die energie wat dan loskom is genoeg om die uitdaging te hanteer.

Dit is wat die Bybel ons leer. Ons moet leer om boontoe te kyk en op Jesus te fokus en nie op ons krisisse nie. Hy het die oorwinning behaal oor die sonde. Leef eerder sy liefde uit in plaas daarvan om op die negatiewe dinge te fokus!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS