Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 2

ʼn Nuwe seisoen begin met verandering!

Bybelteks(te)

2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ROMEINE 12:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Soms wil ons graag ontslae raak van slegte lewensgewoontes, maar ons is bang vir verandering. Ons wil vasklou aan ou gewoontes omdat dit vir ons bekend is, al weet ons dit is nie reg nie. Ons wil vashou aan sonde wat vir ons ongeluk bring. Ons besef ons moet God toelaat om ons lewens nuut te maak, maar ons is bang vir die onbekende. Dit het my aan die volgende verhaal laat dink. Op 31 Januarie 1829 skryf die goewerneur van New York, Martin van Buren, ʼn baie dringende brief aan Andrew Jackson, wat later daardie jaar as president van Amerika ingehuldig is.

Geagte mnr. Jackson

Die kanaalsisteem in ons land word bedreig deur die moontlikheid van ʼn nuwe vorm van vervoer, naamlik spoorweë. Die regering moet hierdie veranderinge aan ons vervoersisteem dringend stop om die volgende redes: Sodra bote met treine vervang word sal dit ernstige werkloosheid tot gevolg hê. Kapteins, kokke, drywers, slawe en werktuigkundiges sal sonder lewensonderhoud gelaat word. Selfs die boere wat hooi verskaf vir die perde sal sonder werk wees. Die bootbouers sal ook werkloos wees. Kanaalbote is absoluut noodsaaklik vir die verdediging van die Verenigde State as ons oorlog teen Engeland voer. Die Erie-kanaal sal die enigste manier wees om voorraad te vervoer wat noodsaaklik is vir moderne oorlogvoering.

Maar die grootste rede is dat treine teen ʼn geweldige spoed van 15 myl per uur beweeg en passasiers se lewens in gevaar stel. Hulle gesondheid sal dit nooit hou as die trein so vinnig ry nie. Hierdie spoed sal veldbrande veroorsaak en die vee sal hulle doodskrik! U moet weet dat die almagtige Vader nooit bedoel het dat ʼn mens teen so ʼn yslike spoed moet beweeg nie.

Groete

Martin van Buren (Goewerneur van New York)

Moenie positiewe veranderinge in jou lewe teëstaan omdat jy bang is vir verandering nie. Mense wil nie verander nie omdat die bekende makliker as die onbekende is. Daarom is hulle maar tevrede met die sonde en ou gewoontes in hul lewens. Hulle besef nie dat daar ʼn beter en meer vervulde lewe op hulle wag nie. Dit is wat Jesus vir ons wil hê. Hy het ons lewensrigting kom verander en ʼn nuwe lewe moontlik gemaak. Hy het sy eie lewe gegee sodat die wêreld verander kan word en nuut kan begin. Stel jouself vandag oop dat die Here jou lewensseisoen en denke kan verander sodat jy ʼn nuwe en wonderlike lewe kan leef! Dit is die moeite werd om ʼn nuwe begin te maak!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS