Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 19

Is jy gereed as die Here vandag sou kom?

Bybelteks(te)

2Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag.

1 TESSALONISENSE 5:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Australiese skrywer Morris West skryf in sy roman The Clowns of God ʼn baie aangrypende verhaal.

Hy vertel van die denkbeeldige Pous Gregorius 17. Die fiktiewe verhaal speel af in 1992 en die wêreld is in groot konflik en gereed vir ʼn volgende wêreldoorlog. In Europa en in Amerika is die atoomwapens teenoor mekaar gerig. In die Vatikaan besluit die Pous dat hy hom gaan afsonder en by die Here leiding soek oor watter boodskap hy vir die miljoene gelowiges moet gee. Terwyl hy op ʼn dag alleen in ʼn klooster sit, verskyn ʼn engel van die Here aan Hom en gee opdrag dat hy moet bekend maak dat die groot dag van die wederkoms uiteindelik gaan kom. Die gelowiges moet hulle gereed maak om die Here te ontvang. Vir hom was dit ʼn skok, maar hy het nie oor sy visioen getwyfel nie.

Hy stuur toe ʼn pouslike omsendbrief aan al die kerkleiers in die wêreld. Die kardinale in die binnekring is egter woedend. Hulle was dit eens: Die Pous het sy kop verloor. As leier van die grootste kerk op aarde is dit nie gepas om so onverantwoordelik op te tree nie. Die aandelebeurs gaan tuimel en mense sal angsbevange wees. Uiteindelik dwing hulle die Pous om te bedank. Die kern van die saak was dat dit Christene was wat nie die boodskap van die wederkoms kon hanteer nie.

Hierdie verhaal het my laat wonder of ons regtig gereed is vir ʼn onverwagte koms van die Here Jesus. Is jy ook verleë as ander mense oor die wederkoms praat? Die Here belowe Hy sal soos ʼn dief in die nag kom. Niemand sal Hom verwag nie. Is jy gereed as die Here vandag weer sal kom? Sou die Here tevrede wees met waarmee jy nou besig is? Ons sê almal dat ons uitsien om die Here weer te sien, maar is dit regtig by jou die geval? Leef jy nie dalk asof die wêreld die belangrikste plek vir jou is nie? As jy ʼn lewe van betekenis wil leef sal jy vandag moet weet dat die Here wil hê dat ons elke oomblik gereed moet wees vir sy wederkoms!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS