Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 18

Vreugde word deur jou gedagtes bevorder

Bybelteks(te)

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

FILIPPENSE 4:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ROMEINE 12:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die geheim van ʼn lewe vol vreugde is onder andere in hierdie vers opgesluit. Saam met die voorafgaande verse in Filippense word dit duidelik gestel dat jou denke jou optrede bepaal. Paulus praat op verskeie ander plekke ook daarvan. In Efesiërs 4:17 wil hy hê dat ons gees en gedagtes nuut moet word. In Romeine 12:2 staan geskryf: “… laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” Daar was by Paulus geen twyfel dat jou gedagtes ʼn bepalende rol in jou lewe speel nie.

Dit wat jy dink, gaan jy leef. Jy kan dit per geleentheid onderdruk, maar uiteindelik gaan dit in jou lewenstyl na vore tree. Dit is moeilik of onmoontlik om jou denke weg te steek. Ons besef dit nie altyd nie, maar ander mense kan tot ʼn groot mate bepaal wat ons dink as hulle na ons optrede kyk. As jy niks goeds oor ander mense te sê het nie en jy is heeltyd negatief, is die oorsprong daarvan by negatiewe denke. As daar by jou mond onrein woorde uitkom, is dit omdat jy aan onrein dinge dink. As jy negatief oor jouself praat en optree, is dit omdat jy min van jouself dink. As jy moedswillig, lui of onaangenaam is, is dit omdat jy toegelaat het dat jou gedagtes negatief word. Soms kom jy nie eers agter dat jy so negatief is nie, omdat jy vir jare toegelaat het dat negatiewe gedagtes stadig maar seker beheer van jou lewe neem.

In vandag se teksvers word sewe waardes genoem waarmee jy jou gedagtes moet vul. Elke gedagte wat nie aan een van hierdie waardes voldoen nie, moet jy verwyder, want dit is nie van die Here nie. Hier word ʼn positiewe rigting vir ʼn goeie lewe aangedui: “… daarop moet julle julle gedagtes rig.” Dit beteken jy moet dit bedink en jy moet oefen om jou gedagtes daarop te rig, want dit gaan goeie koers aan jou lewe gee. Dit is ʼn daaglikse proses wat jy gereeld vir jouself moet leer.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS