Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 17

Vreugde is om vir ander mense daar te wees

Bybelteks(te)

9Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 10Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.

GALASIËRS 6:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Baie jare gelede was daar ʼn slaaf met die naam Androgus. Hy het weggeloop van sy eienaar na die oerwoud. Terwyl hy in die oerwoud was, het hy op ʼn leeu afgekom. Die leeu het ʼn groot doring in sy poot gehad wat reeds begin sweer het. Hy sien toe dat die leeu nie kon loop of jag nie. Hy was maer en uitgeteer. Toe hy die leeu se oë sien en sien hoe swaar die dier kry, kry hy vir hom so jammer dat hy met alle mag graag die leeu wou help. Met groot twyfel en sy lyf wat bewe omdat dit hom sy lewe kan kos, steek hy sy hand versigtig na die leeu se poot uit. Toe die leeu hom sien begin hy sy hand lek, so asof hy hom vra dat hy hom moet help. Stadig het hy die groot doring uit die leeu se poot getrek terwyl die leeu aanhoudend sy hand gelek het en aan hom geruik het. Toe die doring uit is, het die leeu kruppel-kruppel die bosse ingeloop.

Androgus is later gevang deur die koning se soldate en as straf vir sy drostery het die koning opdrag gegee dat hy in die arena deur leeus verskeur moes word ten aanskoue van honderde toeskouers. Intussen is die leeu, wat Androgus lank terug gehelp het, ook in die hokke aangehou. Soos dit moes wees, is dit toe juis dié leeu wat hulle op Androgus los laat. Toe die hek oopgemaak word sodat die leeu kon uitkom, was die skare rasend. Hulle het gedink die leeu gaan die man verskeur. Die leeu storm toe op die man af en toe hy by hom kom, herken hy die reuk van Androgus as die man wat hom lank terug gehelp het. In plaas om hom te verskeur het hy Androgus se hand weer gelek en teen hom geskuur. Die koning en die skare was so verstom dat die koning net daar beveel het dat Androgus vrygelaat kan word en die leeu as geskenk mag kry.

Die Here het ons nie net vir onsself gemaak nie. Hy het ons gemaak dat ons vir ander mense en diere tot seën sal wees. Dink ʼn bietjie wie het die Here vandag oor jou pad gestuur vir wie jy goed moet wees.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS