Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 13

Vreugde is om God in beheer van ons lewens te plaas

Bybelteks(te)

1'n Mens kan sy voornemens hê,

maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.

SPREUKE 16:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Toe Napoleon Bonaparte beplan het om Rusland binne te val, wou een van sy raadgewers hom van plan laat verander. Napoleon het geweier om te luister. Sy raadgewer was moedeloos en het gewonder hoe hy vir Napoleon kon keer. Hy sê toe vir hom: “Onthou die mens wik, maar God beskik!” Napoleon het vol bravade geantwoord: “Nee, Napoleon wik en Napoleon beskik!” ʼn Christen wat dit aangehoor het, het gesê dat hierdie woorde die draaipunt kon wees in Napoleon se suksesvolle loopbaan. Ons weet vandag dat dit inderdaad so was. Hierdie inval in Rusland was die begin van Napoleon se ondergang!

Die mens beplan, maar dit is God wat die finale sê het. Wee die mens wat dit vergeet!

Baie mense sal kan getuig: Net sodra hulle gedink het dat hul nou in volle beheer van hul lewens is, dan gebeur daar iets wat die mat onder hulle uitruk. Dit is dan wat ons besef: Ons is nie in beheer van ons lewens nie, maar God is. Ja, dit is so dat ons eie sonde kan veroorsaak dat ons lewens in die verkeerde rigting gaan, maar as ons die Here dien en Hom volg moet ons bely dat Hy in beheer is. Dit beteken nie ons moet nie beplan nie. In die Bybel is daar baie voorbeelde van manne en vroue van God wat hulle reise en dade beplan het, soos Abraham of Paulus. Die spreukwoord lui “He who fails to plan is planning to fail”, maar ons moet dit met ʼn nederige lewensingesteldheid teenoor God doen. Ons moet heeltyd besef dat die laaste woord van die Here af kom. Dit is waarom mense altyd aan die einde van hulle voorneme of beplanning die woorde sê “as dit die wil van die Here is.” Sommige gebruik die afkorting DV wat beteken Deo volente (as die Here wil).

As kinders van die Here moet ons altyd daarvan bewus wees dat alles wat jy aanpak in afhanklikheid van die Here moet wees. Ons almal weet dat ons nie al die hoekoms van die lewe nou beantwoord gaan kry nie, maar steeds bely ons dat God die koning van die heelal is.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS