Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 12

Bekommernis demp jou lewensvreugde

Bybelteks(te)

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

FILIPPENSE 4:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

5Laat jou lewe aan die Here oor

en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Wat is bekommernis? Dit is om toe te laat dat ʼn situasie of gebeurtenis jou so ontstel, dat jy daaroor stres of vrees. Jy laat toe dat negatiewe emosies jou lewe en denke beheer.

Wat doen bekommernis aan ʼn mens? Dit kan ʼn maagseer, hoofpyn, slaaplose nagte, rugpyn en verskillende siektes veroorsaak. In die boek How to Overcome Nervous Stomach Trouble deur Joseph F Montague, sê die skrywer: “Jy kry nie maagsere van wat jy eet nie, maar jy kry maagsere van dit wat aan jou eet”. Bekommernis vernietig ʼn mens se gees en liggaam. Dit kan jou so geestelik aftakel dat jy sukkel om te bid. Bekommernis is ʼn simptoom dat jou eie emosionele denke nie gesond bestuur word nie en jy kan niemand anders daarvoor verantwoordelik hou nie. Sien, bekommernis en vrees gaan hand aan hand. Jy word eers bekommerd oor ʼn ding, dan begin jy die ergste vrees en daarna verloor jy beheer! As vrees oorgeneem het, het jy beheer verloor.

Wat doen bekommernis? Dit betaal nie die uitstaande rekeninge nie, dit droog nie trane af nie, dit help nie om jou werk te behou nie, dit hou nooit ʼn gesin bymekaar nie, dit sit nie kos op jou tafel nie. Bekommernis doen net mooi niks anders as om jou lewe te vernietig nie. Dit is soos om ʼn wiegstoel te ry. Jy is heeltyd besig om te wieg, maar jy kom nêrens. Bekommernis het dus geen voordeel nie – dit is duidelik nadelig vir jou en vergiftig jou gees en liggaam.

Hoe hanteer jy bekommernis? Jy sal ʼn definitiewe besluit moet neem dat jy nie gaan toelaat dat iets jou so ontstel dat dit die beheer van jou lewe oorneem nie. Verder stel Paulus voor dat jy dit waaroor jy bekommerd is met gebed, smeking en dankbaarheid in die hande van die Here oorgee. Ons moet dus die bestuur van ons lewe doelbewus in die hande van die Here plaas. Gee al die onhanteerbare dinge en emosies in die hand van die Here en vertrou Hom daarmee. As jy jou bekommernis vir die Here gegee het sal jou ontsteltenis verdwyn en sal jy weer innerlike vreugde ondervind, al het jou situasie nie verander nie. “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg” (Psalm 37:5).

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS