Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 11

Wat is die geheim van ware geluk en vreugde?

Bybelteks(te)

4Vind jou vreugde in die Here,

en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Die ware geregtigheid

1Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid.

FILIPPENSE 3:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Wees bly in die Here” beteken dat die Here die een is wat jou gelukkig maak en vir jou blydskap gee. In die gemeente van Filippi het mense gedink dat hulle gelukkig sal wees as hulle stiptelik volgens die wet leef. As ʼn mens so dink impliseer jy dat die verlossingswerk van Christus aan die kruis tevergeefs was (Galasiërs 2:21). Christus het juis gekom om vir ons skuld te betaal omdat ons, vanweë ons onvolmaaktheid, nie presies kan lewe soos die wet dit bepaal nie. Om die gebooie van die Here na te kom, is nie ʼn vereiste om gered te word nie. Dit maak die gebooie nie onbelangrik nie, want nou leef ons daarvolgens om vir die Here ons dankbaarheid te wys omdat Hy ons verlos het. Filippus wil die gemeente leer dat dit nie die nakoming van die gebooie is wat hulle ware geluk sal gee nie, maar dat Jesus alleen vir hulle werklike geluk en blydskap kan gee.

Mense soek hulle geluk in baie verskillende dinge. Baie sal dit soek in die sukses van hulle beroep, die dikte van hulle beursie of die prestasie van hulle kinders. Ander soek geluk deur baie tyd aan hulle stokperdjie of sport te spandeer. Nie een van die genoemde dinge is onbelangrik nie. Dit is ook goed om daarna te streef om in alles wat jy doen te verbeter. Maar dit maak jou nie ten diepste gelukkig nie. Ware geluk sal jy slegs in Here Jesus vind. Ware geluk en ware blydskap van hart is te kry as die Here Jesus jou Alfa en Omega word en as Hy beheer van jou lewe oorneem. Die Bybel praat van geluk as saligheid. Dit beteken ʼn geluk wat nooit ophou of teleurstel nie.

In Psalm 37:4 lees ons: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Die woorde “in die Here” beteken dat ons aan Hom verbind is en dat ons een met Hom is. Ons kan in sy vrede, vreugde en liefde deel en gelukkig wees omdat ons met ʼn baie diep band aan Jesus verbind is. Miskien is dit vandag nodig dat jy ʼn stil plek soek en nadink oor jou verbondenheid aan Jesus. Is dit nie dalk die geluk wat jy nog altyd soek nie? Jy kan dit kry deur Jesus jou Heer te maak en Hom te volg. Hy wil jou so graag gelukkig sien.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS