Bible Society of South Africa

Jou storie: Die lojale vriend - 10 April 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

16Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

Een van die wonders van die lewe is die ongelooflike mense wat jy op jou lewenspad kan teëkom.

Deur my werk, het ek al baie interessante en merkwaardige mense ontmoet. En dan het ek deur die jare by die werk self ook indrukwekkende kollegas gehad. Van die mense het sowaar van my heel beste vriende geraak, sommiges is omtrent soos my susters. Dis ook hierdie mense wat my hart vol maak as ons saam kuier en die dinge van die lewe ontleed en bespreek en deurtrap. Saam maak ons sin van die kinkels, die vreugdes, die dinge waaroor ons bekommer of die hartseer wat ons soms saam beleef.

En die lekkerste? Die opregte ervaring van ’n diep liefde en lojaliteit. Begrip en respek vir die dinge wat ons verskillend maak en die goed wat ons saambind.

Dis een van daai dinge wat geld nie kan koop nie. Maak nie saak hoeveel miljoene rande jy het nie.

Rut was baie lief vir haar skoonma, Naomi. Sy wou haar nie verlaat toe hulle van Moab na Israel sou terugkeer nie. Hulle moes werklik ’n spesiale band gehad het, die dat Rut lojaal gebly het en haar skoonma verder wou vergesel.

Ek glo lojaliteit is een van daai eienskappe waar dit ’n geval is van “action speaks louder than words”. En ek dink dit is hoekom ons by Rut kan leer. Sy het nie net vir Naomi gesê hoe lief sy haar het en hoe belangrik sy vir haar is en dat sy vir altyd lojaal aan haar sal bly nie. Rut het dit bewys deur haar optrede. Deur inderdaad saam met Naomi te gaan, na haar om te sien en by haar te bly. Sy het regtig vir haar omgegee en wou seker maak dit gaan goed met haar. Sy wou haar ondersteun en help.

Ons leef in ’n tyd waar ons honderde Facebookvriende kan hê, of volgelinge op ander sosiale mediaplatforms. Tog is baie mense ontsettend eensaam.

In plaas daarvan om te wonder wie jóú vriende is, gaan dink ’n bietjie: Is j‎‎ý ’n ware, opregte en lojale vriend?

Ek weet hoe wonderlik dit is om lojale vriendinne in my lewe te hê. Maar ek hoop, dat wanneer ek eendag oor my eie lewe terugkyk, my optrede sal getuig van iemand wat lojaal was aan ander.

Gebed: Vader, help my om lojaal te wees in die manier waarop ek teenoor my familie en vriende optree. Dankie vir die voorreg om wonderlike, lojale mense in my lewe te hê. Help my om ook vir hulle meer van myself te gee, sonder om iets terug te verwag. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS