Bible Society of South Africa

Jou storie: Die een wat die regte ding doen - 11 April 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

5Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie.

Daniël, een van die hoofamptenare in koning Darius se paleis, was slim. Hy het hard gewerk en altyd die regte ding gedoen. Dis ook omdat hy die regte ding gedoen het en aangehou het om tot God te bid toe ’n wet vereis dat al die mense tot die koning moet bid, dat hy in die leeukuil gegooi is. Tog het hy ongedeerd daar uitgestap.

Dis nie altyd maklik om die regte ding te doen nie. Ons is mense met gevoelens en emosies wat soms die oorhand kry. Ons maak soms aannames op grond van halwe inligting, ons tree soms uit selfsug op. Nie waar nie?

Daniël het voortgegaan om die regte ding te doen, selfs al het dit sy lewe bedreig. Dit kon nie maklik gewees het nie.

Soms ís dit maklik om die regte ding te doen. Maar kom ons wees eerlik, daar is kere wat die regte ding vrek moeilik kan wees. Dis ook nie altyd lekker om die regte ding te doen nie. Dit kan beteken jy moet eerlik wees oor iets wat iemand anders nie wil hoor nie. Dit kan beteken dat jy soms jou emosies of jou eie behoeftes eenkant toe moet skuif. Dit kan selfs beteken dat jy nooit jou kant van ’n saak kan stel nie, maar slegs kan hoop jou optrede getuig van jou karakter. Dit kan wees dat jy moet opstaan teenoor iemand wat onbillik optree. Dit kan beteken dat jy geduld moet hê wanneer jy óp is.

Daar is baie scenario’s waar die regte ding moeilik kan wees.

Tog, het ek al dikwels ervaar dat dinge in plek val as ’n mens die regte ding doen – as jy reg optree teenoor ander mense, wanneer jy die dinge doen wat God van jou verwag.

Wanneer ’n mens die regte ding doen, soos Daniël ook destyds die regte ding gedoen het, voel jou hart ’n bietjie ligter. En dan voel die lewe sommer ligter.

Gebed: Liewe Here, dis nie altyd maklik om reg op te tree nie. Dis soms moeilik om die regte ding te doen want soms is ek net té kwaad of té hartseer of té keelvol. Help my, gee my die krag om reg op te tree. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS