Bible Society of South Africa

Jesus kry sy ereplek terug – 24 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Jesus bid vir sy dissipels

1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik.

JOHANNES 17:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus het ons volmaakte voorbeeld van dienende leierskap geword. Die Johannes evangelie het begin waar Jesus die “Woord” genoem word, wat alreeds by die skepping van die wêreld betrokke was. Die Johannes evangelie het groot moeite gedoen om Hom aan ons as lesers bekend te stel, dat Hy die Seun van God is, en self ook God. (Johannes 1:1) Hy was gewoond aan hemelse eer en heerlikheid. Tog was Hy bereid om die hemelse gemak agter te laat om ‘n mens te word, om God se boodskap van liefde aan elke mens te bring.

Jesus se lydingsweg het nie met Palmsondag begin, of by die tuin van Getsemane toe Hy gevange geneem is nie. Dit het alreeds begin by sy geboorte, waar die Seun van God as ‘n nietige baba in ‘n stal in ‘n obskure hoekie van die wêreld gebore is. Sy lydingsweg het behels om vir ongeveer 33 jaar tussen mense te lewe, wat nie in Hom glo nie. Die aand voor die kruisiging is die begin van die einde van Jesus se lydingsweg. Hy het geweet die kruis wag die volgende dag op Hom. Dit sou die grootste toets vir gehoorsaamheid wees, oorwinning oor die ongehoorsaamheid van die mensdom.

In die Johannes evangelie sien die skrywer die kruisiging alreeds as deel van die verheerliking van Jesus. Johannes beskryf die oorwinning, eerder as die lyding, van die kruis. Wanneer Jesus hierdie gebed bid, dan is die pasgavieringe in die bokamer byna klaar. Hierna sou Hy en sy dissipels na Getsemane vertrek. Jerusalem was oorvol van pelgrims wat vir die pasga na die tempel toe gereis het. Getsemane was in private besit, en sou ‘n plek van stilte kon bied, waar Jesus sy gebedsworsteling met sy Vader oor die lydingsbeker sou voortsit.

In hierdie gebed sien ons dat Jesus die tydsberekening, en die onafwendbaarheid van die kruis aanvaar. Hy gee Homself oor in sy Vader se hande vir die laaste stukkie van die lydingsweg. Sy begeerte is om die Vader deur sy gehoorsaamheid te verheerlik.

Die offer aan die kruis sou aanvaar word. Jesus sou die dood oorwin op die derde dag. Hy sou opvaar na die hemel om sy posisie van heerlikheid en mag terug te neem daar langs die troon van sy Vader.

Jesus bid vir sy verheerliking, om sy Vader te eer. In hierdie reis stap Hy voor, sodat ons wat in sy voetspore volg, ook by ons Vader se troon kan uitkom. (Hebreërs 10:19-20) Sy verheerliking baan die weg vir ons oorwinning oor die dood, en ons ewige heerlikheid saam met Hom.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U tot die dood gehoorsaam was, in my plek. Dankie dat U vir al my sonde betaal het. Dankie dat U verheerlik is, deur die dood te oorwin, en op te vaar na die hemel. Dankie dat U daardeur vir my ‘n nuwe weg oopgemaak het na my Vader se troon. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS