Bible Society of South Africa

Jesus gee aan gelowiges die ewige lewe – 25 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Jesus bid vir sy dissipels

1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

JOHANNES 17:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die evangelie is Goeie Nuus wanneer ek ontdek wat Jesus vir my persoonlik kom doen het. Hy het die kruis aanvaar, in my plek. Hy het sy instemming gegee vir die kruis met vers 1 hier, en later die aand in die tuin van Getsemane, soos wat ons in Matteus 26:42 lees. Jesus het die gesag ontvang om namens die hele mensdom te sterf aan die kruis. Sy offer vir almal se sonde was aanvaarbaar vir die Vader. Elkeen wat tot geloof in Jesus as Here kom, ontvang die gawe van die ewige lewe.

Jesus beskryf die ewige lewe nie hier in die beelde van engele in die hemel wat harpe speel nie. Ewige lewe is in die heel eerste plek ‘n herstelde verhouding met God. Ons mag die Vader ken, ons het deur Jesus se offer nou vrye toegang tot God. Hy het ons gemaak om sy kinders te wees, en sonde het skeiding tussen ons en God gebring. Deur geloof word ons herstel in ons verhouding met God as sy kinders. Ewige lewe is om Jesus te ken. Om Hom as Verlosser te ken en te volg. Dan volg ons in sy voetspore tot by ons ewige bestemming.

Ewige lewe is ‘n verhouding met die Vader, en met Jesus ons Verlosser. Ons mis die ewige lewe wanneer ons nie vir Jesus ken nie, en nie ‘n saak met ons Hemelse Vader het nie. Dis ook hier mooi om te sien dat ewige lewe nie verdien word deur ‘n klomp goeie dinge te probeer doen nie. Dis die geskenk van die Here, vir ons wat in verhouding met Hom lewe. Dis nie iets wat ons verdien het nie, dis Jesus se gehoorsaamheid tot aan die kruis wat dit vir ons moontlik gemaak het.

Die groot vraag vir ons ewige toekoms is dus nie: “Is ek goed genoeg nie?” Die vraag vir die ewige lewe is: “Ken ek vir Jesus?”

Gebed: Here Jesus, dankie dat U die lydingspad voltooi het, tot by die kruis op Golgota. Dankie dat U uit die dood opgewek is, en die pad na die Vader se woonplek vir gelowiges oopgemaak het. Help my om U te ken. Help my om deur geloof in U my Hemelse Vader te leer ken as die God van liefde en genade. Lei my op u pad tot ek eendag by my Vader se huis aankom. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS