In pas met God: Vry deur Jesus - 29 Januarie 2024
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
ROMEINE 7
Dit is nou al vir ‘n rukkie wat klein Audie alleen by ons wou oornag, maar sy was nie seker of sy so lank weg van haar ouers af kon wees nie. Wanneer ‘n mens vier jaar oud is, is alles nog ‘n leerkurwe en keer op keer het sy op die laaste minuut kop uitgetrek – baie teleurgesteld dat sy dit nie kon regkry nie. Die dag het egter aangebreek dat die stryd verby was, sy was vry om hierdie opwindende nuwe fase in haar lewe met haar twee speelmaats (oupa en ouma) wat versot is op haar te ontdek. Ek kan julle verseker dat om Aspoestertjie se helper te wees en al Pinocchio se lesse van ‘n vierjarige Gepetto te hoor, is van onskatbare waarde.
Is ons ook nie gereeld besig om met een of ander iets te worstel nie? Dit maak ons angstig want ons keuses het ‘n impak op ons lewens – iets wat klein Audie nou begin om te besef. Om te leer om goed van kwaad te onderskei, reg van verkeerd, die waarheid van ‘n leuen, is belangrik in die lewe, maar dit beteken nie noodwendig dat ons alles maklik sal verstaan en altyd die regte keuse sal maak nie. Dit is ‘n uitdaging waarmee ons daagliks saamleef want ons is mense en ons het ‘n vyand wat altyd op die loer is. Uiteindelik berus alle wysheid by God en ons benodig sy lewende Woord.
Paulus het ook met hierdie spanning geworstel, want hy het besef dat sy sondige natuur was voortdurend in ‘n stryd gewikkel met dit wat hy gekies het om hom aan te onderwerp – die wet van God. Hy sê die volgende oor sy dilemma: “Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Romeine 7:22-24)
Ons teksvers vir vandag beantwoord Paulus se vraag: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Op die oog af, as ‘n Fariseër, het Paulus die Wet van God geken en hy het dit so vurig beoefen dat hy die nuwe kerk vervolg het, want in sy gees het hy nie God se hart geken nie. Hy het geen begrip vir die wil van God gehad en nie sy liefde geken nie – totdat Jesus op die pad na Damaskus aan hom verskyn het. “Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie” (Handelinge 9:9) en daar terwyl hy besig was om te vas en te bid, het Jesus self vir “hom [ge]wys hoeveel hy vir [sy] Naam moet ly.” (Handelinge 9:16)
Paulus het gekies om Jesus te dien, wetende dat dit nie maklik sou wees nie, maar hy het na alle waarskynlikheid nie verwag om steeds teen die sonde te stry nie. In Jesus het hy ‘n Hoëpriester gevind wat “nie Een [is] wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.” (Hebreërs 4:15)
Jesus het Paulus weer laat sien – fisies, maar ook geestelik. Saul, die Fariseër, wat in sy eiegeregtigheid gedink het dat hy God dien, het dus eers werklik in pas met Hom gekom toe hy Jesus ontmoet het – die enigste weg na God (Johannes 14:6) – en sy sonde besef en dit bely het. Die Heilige Gees het toe aan Paulus die krag gegee om elke dag die stryd teen die vyand te voer.
Hy sal dieselfde vir ons doen.
Gebed: Here Jesus, sonder U in my lewe beteken al my planne niks en is my “geregtigheid” soos ou, vuil klere. Dankie dat ek saam met U die pad kan loop, dat U aan my die krag gee om as ‘n oorwinnaar te leef en my van die vyand red. Ek is vir ewig dankbaar. Amen