Bible Society of South Africa

In pas met God: Wandel in die Gees - 30 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

GALASIËRS 2:19-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Terwyl ek by die venster uitkyk, raak ek skoon hartseer oor ons grasperk wat in die warm Wes-Kaapse somer vol droë kolle is – ‘n mengsel van lustelose groen met bruin kolle – ten spyte van die feit dat die grasperk gereeld natgelei word. Ek was werklik geïrriteerd met ons besproeiingstelsel wat duidelik onvoldoende is.

Toe, darem met ‘n glimlag, het ek bewus geword van die spel tussen Pinocchio en Geppetto wat in ons huis aan die gang was. Vir Geppetto was dit duidelik dat Pinocchio net ‘n “hout seuntjie” was wat klere en ‘n paar lesse oor eerlikheid nodig gehad het, maar selfs dit sou hom nie in ‘n werklike seuntjie verander nie. Toe ek nader stap, hoor ek hoe klein Geppetto vir groot Pinocchio sê: “Moenie jok nie! Jou neus gaan langer word! God hou nie van leuens nie – ek sal vir jou klere maak!” En met groot spoed het sy verdwyn.

Is dit nie hoe ons soms diep binne voel wanneer iets nie “heeltemal reg” is nie en ons nie in pas met die Gees is nie? In stede van ‘n rustige lewe lei en die voordele van ‘n vrugbare lewe verenig met Jesus ten volle geniet, veroorsaak die sonde “droë kolle” wat onaantreklik is en ware samehorigheid verhoed.

Maar Hy is ons krag om die sonde te oorwin en Hy gee ons krag “om sterk vestings af te breek, redenasies te vernietig, en ook elke skans wat opgerig word teen die kennis van God. Ook neem ons elke gedagte gevange tot gehoorsaamheid aan Christus.” (2 Korinthiërs 10:4b-5, 2020-vertaling)

Ons moet die Heilige Gees, wat voortdurend in ons aan die werk is, verwelkom en saam met Hom werk wanneer Hy ons sonde en foute aanspreek en ons met sy veranderende krag ondersteun. Hy is God, en Hy help ons om Jesus beter te leer ken wanneer Hy ons lei, inspireer en aan ons die krag gee om meer soos Hy te word. Hy rus ons toe om om Hom te dien, Hy help ons om die Bybel te verstaan en leer ons om te bid. Hy skenk ook aan ons gawes tot voordeel van die liggaam van gelowiges.

Ons teksvers vandag vertel van Paulus se totale oorgawe aan Jesus deur die werk van die Heilige Gees: “ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” Paulus was nie langer ‘n “hout seuntjie” wat klere en ‘n paar lesse nodig gehad het nie. Die Gees het Paulus gelei, geïnspireer en aan hom die krag gegee om sy godgegewe missie uit te voer – na al die jare wat hy net op sy eie intelligensie en ywer staatgemaak het, met slegs moord en onrus om daarvoor te wys.

Paulus het geweet waarvan hy praat toe hy aan die Galasiërs geskryf het: “Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. … die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie.” (Galasiërs 5:16-17, 2020-vertaling)

“Leef ons deur die Gees” of verkies ons om “die begeertes van die vlees” uit te voer? Is dit nie tyd om die werklikheid in die oë te kyk nie? Die wêreld benodig die goeie nuus van die evangelieboodskap.

Gebed: Genadige Vader, U woord is die waarheid. Help my om deur die Gees te leef en nie die begeertes van die vlees uit te leef nie. Gee dat ek altyd elke gedagte gevange sal neem tot gehoorsaamheid aan Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS