Bible Society of South Africa

In pas met God: Glo is sien - 6 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

18Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig

wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is;

SPREUKE 4:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gister het ons letterlik en figuurlik ‘n stom Sagaria met baie om oor na te dink agtergelaat – elke ding verbysterend in sy eie reg: ‘n ontmoeting met die engel van God; die vooruitsig op vaderskap op sy ouderdom; hoe sou hy dit hanteer om eers ‘n week na Johannes se geboorte weer te praat; die profesieë aangaande sy ongebore seun; God wat sy seun se naam gee.

Hy sou tyd nodig gehad het om hierdie dinge deur te werk en in die stil dae wat gevolg het, het hy gebid en gemediteer. Al wat hy na Gabriël se wonderlike nuus gesê het, was: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ‘n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.” (Lukas 1:18)

Ek hanteer nie Sagaria se penarie ligtelik nie. Nadat ek onlangs my kleinkind se speelmaat vir ‘n dag was, het ek opnuut besef hoekom daar ‘n spesiale tyd in die lewe is om ‘n grootouer te wees. Maar ek hou daarvan dat, soos ons liefde, ons geloof nie net sommer verdwyn omdat ons ouer word nie, dit neem toe met elke ondervinding – dit hou ons in pas met God. Geloof gaan oor wat ons glo God, ten spyte ons beperkings, kan doen en dit hou ons soos die helder oggendlig vol blydskap en in pas met Hom.

Gabriël se verontwaardiging oor Sagaria se reaksie word weerspieël in sy antwoord: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring … omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” (Lukas 1:19-20)

God was genadig en Hy het Sagaria tyd gegee – weliswaar ‘n ongemaklike tyd – om oor sy verhouding met Hom na te dink en in pas met Hom te kom.

As ons in Sagaria se skoene was, hoe sou ons gereageer het oor hierdie guns en seëning van God op ‘n hoë ouderdom? Sal ons reaksie ook Gabriël se woede en streng woorde tot gevolg hê omdat ons ook net deur die handelinge gaan, heeltemal uit pas met God en Hom nie regtig dien soos ons voorgee nie.

Hoeveel keer kyk ons nie terug op ‘n situasie wat vir ons ‘n beproewing was nie – fisies, emosioneel, geestelik – net om agterna te besef dat God dit vir ons ten goede laat uitwerk het? Ons geloof en begrip het eintlik in daardie tyd gegroei en het ons as gevolg daarvan met groter empatie vir ander gelaat. Dit bevestig net weer die Prediker se pradoksale woorde: “Droefheid is beter as lag; agter ‘n somber gesig skuil ‘n helder gees.” (Prediker 7:3)

Elke beproewing maak ons pad helderder en dit help ons om terug in pas met ons groot God te kom.

Glo is sien!

Gebed: Vader, mag hierdie kennis ons gedurende hierdie Adventstyd bemoedig, waar ons ons ook al saam met U op die lewenspad bevind. Terwyl ons in hierdie seisoen oor al die wonderwerke nadink, gee dat ons in geloof tot aksie sal oorgaan en sal sien hoe die pad toenemend helderder word. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS