Bible Society of South Africa

In pas met God: Teleurgestel in geloof - 5 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

23Die Here bepaal die koers van die mens

met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

24As so iemand val, bly hy nie lê nie,

want die Here help hom op.

PSALMS 37:23-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om saam met God te stap is ‘n ryk, dinamiese ondervinding vir die persoon met wie se pad God tevrede is en wat Hom vir alles vertrou. Vandag se teksvers vang iets vas van die koesterende aard van die verhouding tussen die mens en God. God bepaal die koers en Hy onderhou die mens. Selfs wanneer ons val, is God daar. Hy laat nie los nie, Hy verwerp ons nie, maar in wysheid help Hy ons op en seën die herstel.

Wanneer ons beproef word, raak ons dikwels so selfgesentreerd dat ons nie bewus is van God se nabyheid nie – veral wanneer ons van mening is dat Hy nie ons gebede hoor of beantwoord nie. Ons mag so vasgevang wees in die probleem dat ons selfs vra of dit met ons gebeur omdat God kwaad is vir ons, nie na ons gebede luister nie of Homself van ons onttrek omdat ons gesondig of Hom teleurgestel het. Ons vergeet van sy beloftes en bly uit pas met sy plan. God is egter steeds aan die werk.

Sagaria het miskien iets hiervan beleef. Sy vrou se onvrugbaarheid was seker baie moeilik vir beide van hulle. Hulle het nie meer gehoop vir ‘n baba nie en dit het vir hulle baie pyn en teleurstelling veroorsaak. Sagaria was egter ‘n toegewyde priester en hy het voortgegaan om God in die tempel te dien. Hy en sy vrou, Elisabet, “was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou [maar] hulle het geen kind gehad nie, … Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.” (Lukas 1:6-7)

Maar God is God. In sy volmaakte tyd het Hy hulle hartseer in blydskap verander. Deur ‘n wonderwerk om die eerste Kersfees aan te kondig, het Hy sy onafgehandelde plan met hulle voltooi en so hulle blydskap herstel.

Tog, toe die tyd aanbreek kon Sagaria dit nie glo nie, selfs al het God die aartsengel Gabriël gestuur om die nuus oor te dra. Hy het selfs die koms van die engel Gabriël beplan om saam te val met die dag wat Sagaria sy pligte in die tempel moes uitvoer en tog “Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ‘n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.” (Lukas 1:12-13)

Sagaria het gedoen wat ons almal so dikwels doen: hy het onmiddellik aan sy en Elisabet se onvermoë gedink en nie aan die groot krag van God om hierdie profesie te vervul deur die wonderbaarlike geboorte van hulle baba nie. Van hierdie baba het Gabriël gesê: “hy sal groot wees in die oë van die Here … en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees … hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.” (Lukas 1:15-17) Sagaria kon egter nie glo dat wat met Abraham gebeur het, ook met hom kan gebeur nie.

God het hom egter gehelp en hom tyd gegee om oor alles na te dink: “Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” (Lukas 1:20)

Gebed: Hemelse Vader, ons erken dat u grootheid meer is as wat ons kan dink en ons begrip van U word deur u wysheid oorskadu. Deur u genade help ons asseblief om ons geloof lewend te hou en laat dit groei in elke situasie. Gee dat ons u hand aan die werk sal sien en U daarvoor sal eer. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS