Bible Society of South Africa

In pas met God: Vertrou in sy genade - 7 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

9Aan die kinderlose skenk Hy 'n huisgesin,

sy word 'n gelukkige moeder van kinders.

Prys die Here!

PSALMS 113:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons vers vir vandag voltooi die prentjie van hierdie teer, barmhartige God, kragtig in sy genade en gewillig om af te buig na sy kinders wat steeds “in duisternis woon” (Matteus 4:16), om in hulle behoeftes te voorsien en hulle lyding te herken en genees. Hy seën die minderbevoorregtes want “die geringe help Hy op uit die stof, die arme laat Hy van die ashoop af opstaan” en die kinderlose vrou maak Hy ” ‘n gelukkige moeder van kinders”. (Psalm 113:7,9)

Watter onbeskryflike vreugde en hoop ervaar ‘n vrou nie wanneer sy besef dat sy ‘n moeder gaan word en dat sy binnekort daardie unieke persoon wat in haar baarmoeder gevorm word, in haar arms gaan hou. Instinktief weet sy dat die vervulling van moederskap en haar baba haar lewe ryklik gaan beïnvloed. Vir die vrou wat nie swanger kan raak nie is daardie hoop nie beskore nie en sy leef haar lewe met ‘n verlange na daardie blydskap. Babas is deel van God se plan om lewe te skep, maar die verlange na ‘n baba is nie ‘n waarborg dat ons een sal kan verwek nie. Dit maak nie saak wie ons is nie, God is steeds in beheer.

Terwyl ons gedurende hierdie Advent daarop fokus om in pas met God te wees, word die wonder van sy genade baie duidelik uitgebeeld in die onvrugbare lewens van Sagaria en Elisabet.

Nie net het die kinderlose Elisabet uitgemis op die vreugde en vervulling van moederskap nie, dit het haar soms selfs vervreem van diegene wat wel kinders gehad het. In die Hebreeuse kultuur was onvrugbaarheid ‘n skande, want dit is gesien as ‘n gevolg van ‘n vrou se verskuilde oortredings, van haar sonde. Selfs al was Sagaria en Elisabet “albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou,” (Lukas 1:6) sou Elisabet, die vrou van ‘n priester, ook haar deel van skande en vernedering beleef het.

Maar God het ingegryp en gedurende daardie eerste Advent het Hy alles verander. In tyd, wat net Hy kon beplan, het God hulle gebede beantwoord en Elisabet en Sagaria, beide op ‘n ver gevorderde leeftyd, met hulle langverwagte baba geseën en sy doel vir die lang wag aan hulle openbaar. Hulle baba sou geen gewone kind wees nie. Die engel Gabriël het vir Sagaria gesê ” … en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia … ” (Lukas 1:15-17)

Om God implisiet te vertrou is noodsaaklik vir geloof en iets wat ons op enige ouderdom kan leer. Wat God vir Elisabet gedoen het, was ver bo haar verwagtinge: “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.” (Lukas 1:25) Min het Elisabet geweet dat God se plan met Johannes as die voorloper van die Messias, ook die geestelike onvrugbaarheid van die mense van Israel sou aanspreek, en mettertyd ook dié van die res van die wêreld.

Wanneer ons in God se genade glo en Hom vertrou om in ons behoeftes te voorsien, spreek Hy vandag steeds die onvrugbaarheid in ons lewens aan.

Glo jy dit?

Gebed: Here, dankie vir u wonderlike genade. Help ons om U te vertrou sodat ons lewens vrug kan dra. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS