Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 9

Rolspelers in jou lewe: Natan, jou redigeerder

Bybelteks(te)

2Natan het Dawid geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. God is by u.”

3Dieselfde nag het egter iets gebeur: die woord van God het tot Natan gekom en vir hom gesê: 4“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Nie jý sal vir My die huis bou om in te woon nie.

1 KRONIEKE 17:2-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

12Hy sal vir My 'n huis bou en Ek sal sy troon blywend vestig. 13Ek sal vir hom 'n vader wees en hy sal vir My 'n seun wees. My trou sal Ek nie aan hom onttrek nie, soos Ek dit aan jou voorganger onttrek het. 14Ek gee hom 'n blywende plek in my huis en my koninkryk. Sy troon sal altyd voortbestaan.”

1 KRONIEKE 17:12-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here God, en wie is my nageslag dat U my so ver gebring het?

1 KRONIEKE 17:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”

En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie.

2 SAMUEL 12:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Sonder iemand om soms ʼn spieël voor jou te hou, is jy blind vir die bedrieglikheid wat in jou hart verskuil lê. So iemand dra jou belange op die hart en glo in jou, maar wanneer dit nodig is, draai hy die spieël na jou sodat jy jouself kan sien. Hy is lojaal, maar sy lojaliteit teenoor God en wat Hy sê, geniet voorkeur. So iemand is jou redigeerder — hy sny hier, verander daar, laat jou soms dinge oordoen, want die eindproduk moet God se storie wees.

Die profeet Natan was so iemand vir koning Dawid. Al was sy woorde aanvanklik: “Doen alles wat in u hart is, want God is met u”, skroom hy nie om sy woorde terug te trek toe die Here “Nee” sê nie (1 Kronieke 17:2-4). Maar daarna troos en bemoedig hy ook met die Here se belofte aan Dawid en die plan met sy seun: “Hy sal vir my ʼn huis bou … Ek sal hom laat bestaan in my huis en in my koninkryk tot in ewigheid, en sy troon sal vas staan tot in ewigheid” (1 Kronieke 17:12-14).

Natan se stem in Dawid se ore lei daartoe dat hy hom voor die Here afsonder en neerbuig: “Wie is ek, Here God, en wie is my nageslag dat U my so ver gebring het?” (1 Kronieke 17:16).

Dawid steek sy owerspel met Batseba en die moord van haar man weg, maar dis Natan wat by God daarvan hoor en Dawid se gewete word. Hy bestraf Dawid hieroor en Dawid erken sy skaamtelose oortreding: “Ek het gesondig teen die Here” (2 Samuel 12:13). God vergewe hom en sy verhouding met God word herstel.

Natan verhoed ook dat Dawid sy belofte aan Batseba, naamlik dat Salomo koning sou word, onwetend verbreek. Hy maak Adonia, die tweede aanspraakmaker op die troon, se komplot om homself koning te maak bekend (1 Konings 1:11-40) en red op hierdie manier Dawid se aansien.

Ons het almal iemand nodig wat die gordyn van ons lewe op ʼn skrefie kan ooptrek sodat die verborge sondes in ons hart vir onsself sigbaar kan word. Wie is die persoon wat met opregte bedoelings vir jou kan sê dat jy nie uit Jesus se mond praat nie? Wie kan vir jou sonder vrees sê wanneer jy feite verkeerd het of iemand te na gekom het? Dit is jou Natan.

So iemand hoor wanneer die Here praat. Hy dra jou en jou gesin se belange op die hart. Dit is iemand met wie jy in ʼn verhouding staan en wat jou lewe “redigeer” omdat hy die Here se plan vir jou lewe in vervulling wil sien gaan.

Het jy ʼn Natan of vertrou jy net jouself as redakteur van jou lewe? Wees versigtig!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS