Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 8

Mense in jou lewe: Debora, ʼn menslike rugskild

Bybelteks(te)

8Barak het haar geantwoord: “As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.”

9“Ek staan by die leiers van Israel,

by dié wat hulle vrywillig aangemeld het.

Julle moet die Here prys,

4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

FILIPPENSE 2:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Weens ʼn gebrek aan manlike leiers in Israel (Rigters 5:7), tree Debora as rigter en profetes vir die volk Israel op. God beveel haar om Barak te stuur om Israel van sy verdrukkers, die Kanaäniete, te verlos. Met ʼn eenvoudige strategie oor hoe om die oorlog te voer asook God se belofte dat Hy die vyand in Barak se hand sal gee, roep sy Barak op tot oorlog. Dit is egter nie genoeg versekering vir Barak nie — hy versoek Debora se teenwoordigheid as hy optrek in die oorlog: “As u met my saamtrek, sal ek gaan; maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie” (Rigters 4:8)Miskien het hierdie versoek te doen gehad met haar gesindheid teenoor mense: “My hart is vir die aanvoerders van Israel wat hulle gewillig betoon het onder die volk” (Rigters 5:9).

Wanneer die mindere rol van vroue in die antieke samelewing in ag geneem word, moes Debora se verhouding met God en haar sterk geestelike leierskap ʼn geweldige indruk op Barak gemaak het. Hy het veilig gevoel by haar. In hedendaagse terminologie sal ons sê dat Barak haar gevra het om hom te beskerm — om ʼn rugskild vir hom te wees.

Martin Luther het so iemand gehad nadat hy die vyf-en-negentig stellings op die kerkdeure in Wittenberg vasgespyker het. Toe die godsdienstige leiers terugkap, het Friedrich, die kiesbeampte van Saxony, vir Luther eenkant geroep en gesê: “Marty, ek sal jou beskerm.”

Is dit dan net diegene wat groot dinge vermag of ingrypende veranderinge teweeg bring wat iemand nodig het om hulle te beskerm? Nee, elke mens het ʼn menslike rugskild nodig — iemand wat langs jou loop en iemand wat vir jou bid, want sien, êrens op jou lewenspad is daar ʼn mens wat jou in die rug (wil) steek — ʼn mens wat jou integriteit, gees, roeping en God se droom vir jou wil vernietig. Ongegronde agteraf praatjies en kritiek is dikwels so iemand se wapen wat verwond.

Menslike rugskilde is mense wat jou beskerm met hulle gebede, bemoedigende woorde en opregtheid. Hulle is versigtig om nie oneerbiedig of ondermynend te wees nie en tree gewillig tussenbeide as koeëls om jou begin rondvlieg. Hulle staan terug om jou sterkte te wees en huiwer nie om ʼn ondersteuningsrol te speel wanneer jy die held van die verhaal gaan wees nie.

Die lewe gaan egter nie net oor iemand wat jou beskerm nie, maar ook oor wie jy beskerm. Wees ʼn Debora — nie net vir jou tydgenote en vriende nie, maar ook vir die leiers en hervormers van die toekoms: “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander sʼn” (Filippense 2:4).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS