Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 10

Rolspelers in jou lewe: Saggeus, jou rantmens

Bybelteks(te)

5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

JOHANNES 15:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

In Lukas 19 lees ons van die ryk Jood, Saggeus, wat as ʼn skelm hoofbelastinggaarder in diens van die Romeine gewerk het. Hy het sukses bereik deur sy oneerlikheid en samespanning met die Romeine. Dit het van hom ʼn gehate uitgeworpene van die Joodse volk gemaak — ʼn sondige man met wie ordentlike mense nie wou meng nie — wat nog te sê by tuisgaan! (Lukas 19:5-7).

En tog kies Jesus, soos soveel keer vantevore met ander rantmense, om doelbewus stil te staan en ʼn hand van vriendskap uit te steek: “En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: ‘Saggeus maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly’ ” (Lukas 19:5). Hierdie ontmoeting met Jesus en sy erkenning van hom as mens, het ʼn groot verandering in Saggeus en sy huis teweeg gebring — ʼn dief word ʼn blymoedige gewer; op ʼn wonderbaarlike wyse kry hy ʼn gewete en word gered. Toe sê Jesus vir hom: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom” (Lukas 19:9).

In ʼn hedendaagse konteks plaas die Saggeuse hulleself strategies in ʼn posisie om gesien en gehoor te word. Hulle is daardie lastige mense. Hulle is taktloos en hulle onortodokse manier van doen is altyd reg; hulle ongemaklike vrae daag jou oortuigings uit; hulle “klim in die boom” sodat jy kan opkyk en meer as blare aan die boom sien. Met geen verwagting om uit die boom geroep te word nie, word hulle so onkant betrap dat hulle byna uit die boom val as iemand hulle roep vir koffie.

Soos Jesus moet ons rantmense begin raaksien as mense wat liefde nodig het en dit ook kan gee. Daar is geen mens buite die bereik van Christus se liefde nie. Daarom kan ons net ander se lewens aanraak met sy liefde as ons ʼn “mekaar”-benadering volg — ons moet mekaar bemoedig, ons moet leer by en van mekaar, ons moet aan mekaar gee, en vir mekaar lief wees. As ʼn mens dít kan regkry, word die dapper stap om hulle “rantbuurte” en lewens te betree, ʼn eerste babatree uit jou eie gemaksone, selfsug en tevredenheid. Vir hulle is dit ʼn eerste wankelende tree op die pad van hoop om “sigbaar” vir mense te word.

Hoe moet ons te werk gaan? Nader een persoon op ʼn slag, met hulp: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Johannes 15:5).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS