Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 6

Verhoudinge: Wees waar Hy is

Bybelteks(te)

3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

JOHANNES 14:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

18Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

2 KORINTIËRS 3:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

11En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

EFESIËRS 4:11-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

14Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek.

4Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

JOHANNES 15:4-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

JOHANNES 14:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elke mens is op ʼn lewensreis. Dit behels egter meer as die reis en die bestemming — dit vind betekenis in wié saam met ons op hierdie reis is en met wie ons in verhouding staan. God se liefde vir mense en sy begeerte om met hulle ʼn verhouding te hê, is die kern van ons reis: “… kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:3). Ons “wees waar Hy is” laat ons groei om mense te wees wat voortdurend verander word om meer soos Hy te wees (2 Korintiërs 3:18). Vanuit hierdie verhouding word dit makliker om mens vir ʼn ander mens te wees op hierdie lewensreis.

Dit bring egter verantwoordelikheid: Jy moet ander mense ook lei na “waar Hy is” — ʼn daad wat nie onmoontlik is nie: “Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Efesiërs 4:11-12). Die sielkundige, Larry Crab, vat dit mooi saam: “Die kerk is ʼn gemeenskap van mense op ʼn reis na God.” Opregte verhoudings van gee en deel word ʼn belegging met ewigheidswaarde waar gelowiges individueel en as ʼn geloofsgemeenskap groei tot eenheid in hulle geloof en kennis van Jesus (Efesiërs 4:13).

Jesus leer ons hoe: “En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees …” (Markus 3:14). Let op: Jesus neem die inisiatief om hulle by sy lewe te betrek. In hierdie verhouding leer hulle wie God werklik is, wat die implikasies is om Jesus Christus heelhartig te volg, asook hulle taak as sy volgelinge. Verder het hulle verhouding met mekaar ʼn dinamiese krag van diens teweeg gebring wat die wêreld vir altyd sou beïnvloed.

Hierdie soort verhouding vereis dat ons die voorbeeld stel. Met ander woorde, dat ons die voorbeeld sal lééf. In ʼn stukkende en deurmekaar wêreld is dit nie maklik nie. Hoe kry ons dit reg? Wees waar Hy is! Volg Hom soos jou eie skaduwee jou volg. Hy is die Lig — leef in sy lig; Hy is die Wynstok — bly in Hom (Johannes 15:4-5); Hy is die Weg  loop sy pad; Hy is die Waarheid — glo in Hom; Hy is die Lewe — leef vanuit Hom wat in jou woon (Johannes 14:6).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS