Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 3

Verhoudinge: Speel saam (2)

Bybelteks(te)

8Toe hy 'n lang ruk daar gebly het, het koning Abimelek van die Filistyne op 'n keer deur die venster gesien hoe Isak sy vrou Rebekka liefkoos.

GENESIS 26:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:

17“ ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,

en julle het nie gedans nie!

Ons het 'n treurlied gesing,

en julle het nie gehuil nie!’

MATTEUS 11:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het gister gesels oor die voordele van speeltyd en hoe kinders en Jesus daaraan uitdrukking gee.

As volwassenes wil speel, verg dit dikwels ʼn verandering van denkpatrone, ʼn uittrede uit gemaksones en die vrymoedigheid om soos kinders, ten spyte van alles wat in die lewe gebeur, uitbundig en met waagmoed uit te storm en te speel!

Onlangs tydens ʼn besoek aan ʼn kwekery, hoor ek êrens agter my die geraas van trolliewiele en iemand wat vrolik skree: “O, dit is die lewe! Vinniger, jongman! Vinniger!” Bo-op die trollie staan ʼn laggende maar elegante bejaarde dame terwyl ʼn werker met haar en haar plantaankope tussen die breë kwekerypaadjies rondhardloop. Verspot? Nee! Net ʼn vrou wat die oomblik aangryp om haar verhouding met mense en die lewe te vier!

Hoe speel ouer mense? In die natuur, naby aan die skepping van God. Met goeie boeke, plesierritte op ʼn motorfiets, met kuns, musiek, dans, stokperdjies, dagdroom en so meer. Kortom, jy speel as jy doelbewus van jou daaglikse roetine wegstap en die ongewone doen. En wanneer jy hierdie ervaringe met ander deel, skep jy die geleentheid vir verrykende verhoudinge.

Dit is egter ook geleenthede waartydens ʼn getroude paartjie speel en plesierig soos kinders sing en dans — iets wat Isak en Rebekka maklik kon regkry. Hierdie verhouding het selfs die koning se aandag getrek: “En toe … kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou” (Genesis 26:8). Die Griekse woord vir speel beteken letterlik om te speel soos ʼn kind (Vine’s Expository Dictionary), terwyl ander Bybelvertalings dit interpreteer as liefkoos. Wat die geval ook al mag wees, hierdie insident was belangrik genoeg dat die Heilige Gees die skrywer geïnspireer het om dit in die Skrif aan te teken.

Ek herinner jou weer aan gister se Skrifgedeelte waar Jesus die mense konfronteer: “Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep en sê: ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle ʼn klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie’ ” (Matteus 11:16-17). Dit was glad nie Jesus se bedoeling om volwassenes aan te praat om te speel nie, maar hierdie gedeelte beskryf die passiwiteit en apatie van volwassenes op ʼn treffende wyse — ons staan loodvoete terwyl die musiek van die lewe speel.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS