Verhoudinge – Dag 2
Verhoudinge: Speel saam
Bybelteks(te)
MATTEUS 11
Dit is algemene kennis dat speel kinders onder andere intellektueel kan stimuleer en die ontwikkeling en groei van die brein kan bevorder. Daarby word nuwe neuronverbindings gevorm.
Emosioneel is speel ʼn uitlaatklep vir energie en spanning; dit laat jou ontspan en wakker weer ʼn liefde en waardering aan vir die lewe — veral by volwassenes.
Die belangrikste voordeel van speel is egter dat dit verhoudinge tussen mense bevorder. Wanneer speelse kommunikasie en interaksie waardeer word, skep dit ʼn atmosfeer vir maklike en gemaklike bande, asook intimiteit.
Een manier om dit reg te kry, is om te kyk hoe kinders dit doen. Hulle kreatiewe, verbeeldingryke speletjies van leeus en krokodille, mammas en pappas met popkinders, skurke en superhelde, slaag daarin om samehorigheid te skep. Hulle word kwaad, huil, lag en dans op die maat van “speel” in hul harte. Hulle speel die kwessies van die lewe na die agtergrond en vind in en by mekaar ʼn gemeensaamheid wat hulle gelukkig maak. So beskryf Jesus kinders wat speel: “Dit is soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep en sê: ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle ʼn klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie’ ” (Matteus 11:16-17).
Daar is geen bewyse dat Jesus speletjies met kinders gespeel het nie, maar daar is ʼn bewys dat Hy ʼn hart kinders gehad het en vir hulle tyd gemaak het. Vir Hom was hulle die voorbeeld van die gesindheid waarmee mense sy koninkryk moes ontvang (Matteus 19:13). Hy moes ʼn besondere speelse toeganklikheid gehad het vir kinders om sonder skroom op sy skoot te sit, wat Hom in staat gestel het om sy arms om hulle vou en stil te sit sodat Hy hulle kon seën. Hy het nie gehuiwer om met die dissipels te raas oor die manier waarop hulle kinders hanteer het nie.
Hy het sy dissipels gereeld eenkant toe geneem. Tydens daardie intieme oomblikke het Hy sy Vader se hart met hulle gedeel en hoop vir die toekoms gegee. Deur sy vertellings, gelykenisse en die manier waarop Hy dinge gedoen het, het Hy ʼn atmosfeer geskep waar mense maklik met Hom kon identifiseer en hul behoeftes met Hom deel.
Jy wonder seker: Wat het “speel” met hierdie voorbeelde te doen? Jy sien, om te speel beteken om tyd daarvoor te maak in ʼn oorvol program. Dit is presies wat Jesus gedoen het — Hy het doelbewus oomblikke geskep waarin Hy in sy menslikheid werklik mens vir ander kon word sodat hulle ʼn ware verhouding kon ervaar.
Ek kan nie help om te wonder nie: As speel dit moontlik maak om verhoudinge te ontwikkel en te laat verdiep, waarom vind ons dit dan so moeilik om opsetlik te speel?